Matrikulant van die Jaar: Grootste prestasie vir Grey-leerling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die wenner van vanjaar se Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Netwerk24 beskou dit as sy grootste prestasie.

"Ek is verheug oor die toekenning, dit voel onwerklik, ek het dit glad nie verwag nie," sê Jayden Leech.

"Ek is geskok, maar voel ook op hierdie oomblik so gelief danksy die boodskappe van gelukwensing wat inkom op my foon," het Jayden die dag ná sy kroning gesê.

Dié onderhoofseun van Grey Kollege in Bloemfontein vertel sy ouers, Stuart en Doné, het hom nog altyd soos 'n volwassene behandel en hom ruimte gegee om homself te wees.

Jayden Leech van Grey Kollege in Bloemfontein, 2024 se Matrikulant van die Jaar, saam met sy ouers, Stuart en Doné, op die galadinee by die Monte Bello-landgoed buite Bloemfontein waar die wenner Dinsdag aangewys is.  Foto: Charl Devenish
Jayden Leech van Grey Kollege in Bloemfontein, 2024 se Matrikulant van die Jaar, saam met sy ouers, Stuart en Doné, op die galadinee by die Monte Bello-landgoed buite Bloemfontein waar die wenner Dinsdag aangewys is. Foto: Charl Devenish

"As jy weet jou ouers het vertroue in jou, het jy vertroue in jouself."

Jayden, wat ook die Kovsie-Alumnitrust se spesiale prys vir prestasie in sport gewen het, speel sedert gr. 10 vir die Suid-Vrystaat hokkie, is vanjaar die kaptein van die skool se eerste hokkiespan en is die afgelope twee jaar onderkaptein van die eerste waterpolospan.

Benewens sy prestasies in skoolsport, is hy 'n uitstekende karateka wat sedert hy vyf jaar oud is aan hierdie sportsoort deelneem.

"Ek is baie lief vir karate, dit is al 13 jaar deel van my lewe. Die twee keer wat ek al oorsee was, was danksy dié sport."

Jayden het in 2022 saam met 'n groep karatekas van oor die land heen na Japan gereis waar hy sy nidan, sy tweede swart gordel, behaal het. Verlede jaar het hy 'n bronsmedalje op die Europese-Opekampioenskap in Italië verwerf, waar meer as 600 karatekas deelgeneem het. Hy is reeds weer gekies om Suid-Afrika volgende jaar op die wêreldkampioenskappe in Japan te verteenwoordig.

Vanjaar het hy besluit om meer op skoolsport te konsentreer - steeds kom hy selde voor 19:00 by die huis. Jayden bestee sowat twee uur per dag elk aan hokkie- en waterpolo-oefening. Dit alles terwyl hy steeds 'n akademiese gemiddelde van ongeveer 90% handhaaf.

Gevra hoe hy by alles uitkom, is sy antwoord dat hy in die oomblik leef.

"Ek maak my ouers mal, want ek beplan nie, maar as ek weet ek moet vandag iets doen, doen ek dit. Dit is nooit te veel as jy dit nou doen nie. Moenie take uitstel nie."

Jayden beoog om volgende jaar medies aan Kovsies te studeer.

"Ek het 'n passie vir mense en om mense te help. Ek is op my gelukkigste as die mense om my gelukkig is. Ek wil graag 'n glimlag op mense se gesigte sit."

Hy wil graag spesialiseer, moontlik in dermatologie, traumachirurgie of kardiotorakschirurgie.

Sy raad vir toekomstige finaliste van die kompetisie is om net hulself te wees.

"Ek dink nie die beoordelaars soek iemand wat voorgee om iets te wees wat hy of sy nie is nie."

Jayden sê die kompetisie was vir hom lewensveranderend. "Dit het my oë oopgemaak. Ek kan soms negatief wees, spesifiek oor ons land, maar die tyd wat ek saam met die ander finaliste bestee het, het my gemoed goed gedoen. Gegewe wat ek hierdie twee dae gesien het, is die toekoms van Suid-Afrika en van Kovsies in goeie hande."

Jayden is die oudste van twee kinders. Sy suster, Kelci, is in gr. 10 aan die Eunice High School.

"Ons kom baie goed oor die weg, al stamp ons soms koppe. Ek is baie trots op haar, sy werk ook baie hard."

Sy pa, Stuart, mede-eienaar van die familieonderneming Leech Venetian Blinds in Bloemfontein, sê Jayden se toewyding, vasberadenheid en onwrikbaarheid is sy beste eienskappe.

"As hy sy kop op iets sit, gaan hy voluit daarvoor."

Volgens Jayden ma, Doné, 'n somatoloog en eienaar van die skoonheidsalon Doné's, het Jayden 'n gawe om met positiewe energie wakker te word, gereed om sy dag en al sy verantwoordelikhede aan te pak en dinge elke dag gedoen te kry.

"Hy is beslis 'n doener."

Siska Martin

SPELETJIES VANDAG

CTA