Matrieks

Mbali laat almal glimlag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mbali Msipha
Mbali Msipha

Mbali Msipha (19) se naam beteken "blom" in Zoeloe, maar Khanyisa, wat "ligdraer en "om te verhelder" beteken, sou haar net so goed gepas het. Wanneer sy soggens deur die Hoërskool Kemptonpark se hekke geloop het, het sy een doelwit gehad - om iemand te laat glimlag.

"Ek het elke dag my mede-Kempies aangemoedig om harder te werk, te studeer en hul huiswerk betyds in te handig. Ek wou my klasmaats opbeur en die skool soos hul tweede huis laat voel."

Haar matriekjaar was propvol - sy was deel van die Kempie-leerlingraad, het netbal gespeel vir die B-span, en vlieglesse geneem by die Hoërskool Kemptonpark se vliegakademie.

Hoewel Mbali positiwiteit uitstraal, was haar eie lewe nie altyd gevul met sonskyn nie. Sy is sedert graad agt in terapie, nadat traumatiese gebeure haar lewe onherroeplik verander het.

Sy wou nie uitwei nie, maar sê: "Ek het daardeur gewerk en ek gaan nie toelaat dat dit my toekoms raak nie."

Sy het haar skoolloopbaan met universiteitsvrystelling afgesluit.Die oud-Kempie het keuring vir fisioterapie gekry by die Universiteit van Kaapstad, maar het nog nie vir enige beurse of studiebefondsing gekwalifiseer om tersiêr te studeer nie. Sy wil ook vanjaar vir haar privaatvlieënierslisensie kwalifiseer.

Dis nie net by haar skool waar sy vreugde verskaf het nie. Haar ouma, Anna Msipha, is 'n huiswerker en met behulp van Anna se werknemers en skenkings van Glen Acres Superspar, bedryf ouma en kleindogter 'n voedingskema in Tembisa. "Dis een van my week se hoogtepunte, om 'n verskil in mense se lewens te maak. My ouma is ook my rolmodel. Sy het my grootgemaak, sy is my ma en die wysste vrou wat ek ken."

Mbali het vir haarself daagliks roosters opgestel wat haar skoolwerk en naskoolse aktiwiteite haarfyn beplan het, en streng daarby gehou.

"Dis hoe ek my lewe organiseer. Ek sou byvoorbeeld sien ek het 'n vol week met netbaloefeninge en vlieglesse, en dan my huiswerk vroegtydig voltooi. Naweke het ek studeer."

Sy het dikwels partytjies en sosiale funksies prysgegee, maar glo dit was die moeite werd.

Die oud-Kempie was ook 'n lid van die Oos-Randse jeugkoor, een van haar hoërskoolloopbaan se hoogtepunte. Om te sing is een van haar groot liefdes. Deur sang voel sy asof sy haar stem as 'n jong, dinamiese vrou laat geld. Vanjaar wil sy ook nie net gehoor aan haar musikale stem gee nie, sy sien ook uit om vir die eerste keer te stem. "Ek gaan beslis my kruisie trek - ek wil verandering in Suid-Afrika sien. Ons sit met skokkende werkloosheidsyfers en dis nie 'n veilige land vir vroue nie."

Om te stem is soos om 'n koor te sing, meen sy. As almal saamwerk en hul demokratiese verpligtinge nakom, dan is daar 'n gemeenskaplike doelwit, en inderdaad hoop vir Suid-Afrika en sy mense.

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM