Karla Victor (18) van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein is al van gr. 1 af lief vir sport. Sy het aan verskeie sportsoorte deelgeneem, insluitend netbal, maar toe sy in gr. 4 een van haar sportheldinne ontmoet het, het sy geweet sy hoort op die netbalbaan.
Karla het matriek met 'n onderskeiding in lewensoriëntering geslaag. Sy verteenwoordig Suid-Afrika sedert gr. 10 op nasionale vlak in netbal.
"Toe ek 11 jaar oud was, het ek my rolmodel, die netbalspeler Karla Pretorius, ontmoet. Ek bewonder haar nederigheid en geloof in God. Daarna het ek meer op netbal begin fokus."
Haar hoogtepunt verlede jaar was om kaptein van Suid-Afrika se o. 18-Fast5-netbalspan te wees wat in Augustus aan die Statebond Jeugspele in Trinidad en Tobago deelgeneem het. Dis was ook die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaanse o. 18-Fast5-netbalspan (amper soos netbal se weergawe van Pro20-krieket) deelgeneem het aan die Statebond Jeugspele.
"Die kersie op die koek was om Suid-Afrika se vlagdraer te wees," sê Karla, wat onderskeidelik senter en verdedigende vleuel speel.
Sy beskryf netbal as 'n lekker spansport, en sê sy het talle nuwe vriendskappe daardeur gemaak.
"Almal ondersteun jou en dis ook 'n voorreg om deel te wees van Netbal Suid-Afrika wat dit vir spelers moontlik maak om op verskeie vlakke deel te neem.
"Netbal Suid-Afrika doen baie moeite om spelers te behou deur hulle te help om borgskappe te bekom. Hulle bied ook gereeld toernooie aan."
Ná haar prestasies in skole-netbal sien Karla daarna uit om vanjaar verder as netbalspeler te ontwikkel en elke geleentheid aan te gryp wat op haar pad kom. "My doelwit is om vir die nasionale span gekies te word, en ek sien veral vanjaar uit om tot op professionele vlak te groei."
Sy meen ook vrouesport is beslis besig om verder te ontwikkel en dat sportvroue al hoe meer geleenthede kry.
"Ek voel bevoorreg om 'n vrou te wees en te weet dat vroue 'n spesiale gawe het om te veg. Die talent en potensiaal in ons land se netbalkamp is ongelooflik. Borge kom net hulself te na as hulle netbalspelers vir borgskappe oorsien."





















