Die Hoërskool Menlopark in Pretoria is as die toppresterende hoërskool in Gauteng aangewys.
Matome Chiloane, Gautengse LUR van onderwys, het Vrydag dié provinsie se matriekuitslae, topmatrieks en -skole by die Soshanguve East Secondary School in die noorde van Pretoria bekend gemaak.

Schalk Reynders, hoof van die Hoërskool Menlopark, het gesê dis 'n eer om as die topskool aangewys te word. "Die matrieks moes hard werk en ekstra insit om hierdie uitslae te behaal. Ons is werklik dankbaar vir dié prys."
Volgens Reynders was die matrieks van 2022 waarlik veerkragtig.
"Die Hoërskool Menlopark is hierdie jaar besonder dankbaar oor die sukses van die matrieks van 2022. Hulle moes in 'n baie moeilike era in die geskiedenis meer doen en harder werk. Ons is geweldig trots op ons personeel, wat elkeen 'n invloed gehad het op die uitslae wat ons aan die einde van gr. 12 kan vier. Matriekuitslae behels soveel meer as net die gr. 12's se harde werk en elke onderwyser se insette op die pad na matriek toe om die sukses te bepaal."
Uit die 330 Menlo-matrieks is 964 onderskeidings behaal en bykans 70 matrieks het ses onderskeidings en meer behaal.
"Ons is trots op elke matrikulant, want elke onderskeiding van elke leerling maak 'n verskil. Dit getuig van buitengewone harde werk, toewyding en deursettingsvermoë. Daar is deur die jaar ekstra gewerk, begelei en ondersteun. Die uitslae is net die kersie op die koek.
"Ons wens elkeen van hierdie matrikulante baie geluk. Dit was vir ons 'n groot voorreg om hulle hier te hê en ons weet 'n blink toekoms wag vir hulle omdat hulle geleer het om in alles die hoogste na te streef," het Reynders gesê.

Die Hoërskool Waterkloof in Pretoria is as naasbeste presterende skool in Gauteng aangewys en die Hoërskool Garsfontein beklee die derde plek.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het verduidelik die topskole in dié provinsie word jaarliks bepaal volgens die slaagsyfer en matrieks wat met universiteitsvrystelling geslaag het.
Dié drie hoërskole is meestal elke jaar in die topdrie en ding jaarliks om die topposisie mee.
Chiloane het in sy toespraak ook melding gemaak van die hoërskole in Gauteng met die hoogste graadvrystellingskoers. Dit is skole met 'n persentasiekoers van 95% of meer. Hulle is die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, die Hoërskool Waterkloof, die Hoërskool Garsfontein, die Hoërskool Linden in Johannesburg, Die Hoërskool Menlopark en die Hoërskool Eldoraigne in Centurion.
In 'n Facebook-inskrywing het die Afrikaanse Hoër Meisieskool hul universiteitsvrystellingkoers van 99,5% bekend gemaak. "Die kwaliteit van ons uitslae word duidelik weerspieël in die feit dat slegs een meisie nie universiteitsvrystelling gekry het nie. Die leerlinge het 3,2 onderskeidings per kandidaat verwerf en 'n groepgemiddeld van 76% behaal," lui die inskrywing.




















