Matrieks

Netbal-ster maak vanjaar buiging vir Wits

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Giada Prinsloo het geblom van 'n amper onwillige netbalspeler in die laerskool tot lid van die Protea-netbaloefengroep in haar matriekjaar. Giada het tussendeur al die doelskietery ook tyd gemaak om akademies te presteer en het verlede jaar matriek met agt onderskeidings aan die Helpmekaar Kollege in Johannesburg geslaag.

"My ma is self 'n uitstekende netbalspeler en -afrigter. In die laerskool was ek regtig nie 'n baie goeie speler nie en my ma het my toe vir aksienetbal ingeskryf. Dit het my baie gehelp om as speler te ontwikkel en in gr. 9 was ek die eerste keer in die A-span."

Giada Prinsloo
Giada Prinsloo

Giada vertel sy is so lief vir netbal juis omdat dit goeie spanwerk vereis.

"Ek is nie so mal oor individuele sportsoorte soos tennis nie (al het ek dit ook al gespeel). Ek hou van die ondersteuning wat spansport bied. Alhoewel, om 'n doel te wees bied sy eie uitdagings, want jy moet op jou individuele vaardighede fokus om jou deel in die span goed te doen."

Sy het in haar matriekjaar Gauteng-proewe gespeel en die span gehaal. In Julie verlede jaar het hulle teen die ander provinsies deelgeneem waar sy as een van die 40 spelers gekies is wat in die Protea-oefengroep ingesluit is.

"Omdat ek so baie vakke gehad het in matriek, was dit heerlik om op die netbalbaan van alles te ontsnap. Dit het vir my die kans gegee om my kop skoon te kry."

Giada moes saam met haar akademie en netbal ook in haar hoërskooljare persoonlike tragedie oorkom. Haar pa was lank sieklik met 'n longkwaal en is in haar gr. 11-jaar dood.

"Dit was natuurlik baie moeilik, maar ek dink omdat my pa so lank siek was, het dit ons tyd gegee om vrede te maak. Ons het geweet hy is baie siek en dit het ons die kans gegee om onsself voor te berei."

Giada Prinsloo maak gereed om 'n doel te skiet.
Giada Prinsloo maak gereed om 'n doel te skiet.

Giada is een van 'n tweeling en sy vertel haar tweelingboetie, Tristan, het ook agt vakke.

"Ons het dieselfde vakke gehad, behalwe hy het besigheidstudies in plaas van rekeningkunde gehad. Tristan gaan vanjaar meganiese ingenieurswese by Tuks studeer."

Giada vertel sy is deur dr. Elsje Jordaan, 'n Protea-netbalafrigter verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), genader om vanjaar vir dié universiteit se netbalspan te speel. Sy gaan dan ook by Wits mediese wetenskap studeer.

Giada het onderskeidings in rekeningkunde, Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, Duits tweede addisionele taal, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, wiskunde en fisiese wetenskappe behaal.

Karla Janse van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM