Nuwe omgewing gee Anja selfvertroue en studie-woema

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Anja Ackerman (18) moes in die middel van haar hoërskoolloopbaan van skole verander. Dit was ’n uitdaging, maar sy het soveel uit dit geleer, sê sy.  Foto: VERSKAF
Anja Ackerman (18) moes in die middel van haar hoërskoolloopbaan van skole verander. Dit was ’n uitdaging, maar sy het soveel uit dit geleer, sê sy. Foto: VERSKAF

Om in die middel van jou hoërskoolloopbaan skole te verander kan nogal moeilik en vreesaanjaend wees.

Maar Anja Ackerman (18), 'n matriekleerling aan die Hoërskool Dirkie Uys, het dit as 'n geleentheid gesien om nie net aan haarself te werk nie, maar ook beter te presteer op skool.

Volgens Anja moes hulle onverwags George toe trek vir haar ouers se werk. Maar sy het reeds haar lewe hier in Kaapstad beplan.

"Ek was toe alreeds reg om my hoërskoolloopbaan hier in die Kaap te begin, en toe trek ons. My plan was half ontspoor. Ek het toe hoërskool begin en in daardie stadium het Covid-19 die land getref. En as gevolg daarvan kon ek nie eintlik vriende maak nie," vertel sy.

Sy se haar eerste drie jaar in George was vir haar baie moeilik, want sy was onseker oor haarself en haar akademie het daaronder gely.

"Ek kon nie myself vind nie en het ook nie eintlik geweet wie ek was nie. My punte was ook nie goed nie. Jy kan basies sê ek was in my rebelse fase," skerts sy.

Volgens Anja het sy toe in haar gr. 10-jaar besluit sy wil glad nie meer by die skool wees of in George nie. Sy en haar ouers het toe nadat sy die jaar klaar gemaak het, Velddrif toe getrek.

Anja het eers gedink dat sy weer in die Kaap sou skoolgaan, maar dit was egter nie die geval nie.

"Toe begin ek my gr. 11-jaar by die Hoërskool Dirkie Uys en ek dink dit was 'n goeie besluit. Ek kon myself weer herontdek en 'n beter mens wees as voorheen," verduidelik sy.

Anja sê verder dat Dirkie Uys en haar vorige hoërskool hemelsbreed verskil en dat sy "nie meer 'n nommer is nie".

"In Dirkie Uys was jy baie meer gesien, want by my vorige skool op George was daar so baie leerlinge. Ek het elke dag seker 10 nuwe mense gesien. By Dirkie Uys ken almal mekaar. Jy hoef nie noodwendig vriende met almal te wees nie, maar daar is definitief meer 'n gemeenskapsgevoel in die skool.

"Almal is ook baie ondersteunend al is jy nie vriende met hulle nie. Die leerlinge sal vir jou persoonlik gelukwens as jy presteer het of 'n toekenning ontvang het. En dit het my selfvertroue 'n hupstoot gegee.

"Dit laat jou voel jy word ondersteun en dit het baie gehelp met die oorgang na die nuwe skool."

Sy het ook hier baie meer vriendskappe gesmee.

"Ek het in die laaste jaar baie meer vriende gemaak as deur my hele hoërskoolloopbaan. Die goeie vriendskappe wat ek hier gebou het, was baie meer eg - op die koshuis ook. Maar op die ou einde van die dag is jy maar tog met almal vriende," vertel sy.

Anja moes ook by koshuislewe aanpas en sê dit het haar nuwe vaardighede geleer.

"Dit was die eerste keer wat ek op koshuis gebly het en die reëls het my definitief gehelp met my akademie. Ek was nie iemand wat sommer net so tyd afgestaan het om bietjie te leer nie, maar die studietye in die koshuis het beslis vir my gehelp om in daardie roetine te kom.

"Nou weet ek wat ek moet doen vir volgende jaar (vanjaar) wanneer ek op my eie gaan woon. Ek het ook baie meer onafhanklikheid geleer, want jy is so te sê op jou eie. Jy moet op jouself staatmaak, want daar is niemand anders wat sekere goed vir jou gaan doen nie - jy moet dit self doen."

Volgens Anja dink sy nie sy sou die mens gewees het wat sy vandag is as hulle nie getrek het nie.

"Ek sou akademies-gewys nie gewees het waar ek vandag is nie. Ek sou ook nie al die doelwitte bereik het wat ek vir myself gestel het toe ek hier aangekom het nie. En ek sou ook nie eers daaraan gedink het om akademies te presteer nie," voeg sy by.

Volgens Anja het sy die ideale matriekjaar gehad.

"Die beste deel van my matriekjaar was die selfvertroue wat ek opgebou het en my punte het dit gewys. Ek het ook bereik dit wat ek akademies wou bereik," sê sy met 'n glimlag.

Sy hoop en bid dat sy in al haar vakke 'n A-simbool gaan kry. Sy het matriek met ses onderskeidings en toelating tot graadstudies geslaag.

Anja sien ook uit na die volgende fase van haar lewe.

"Ek is opgewonde oor lewe ná skool en sien uit daarna om my eie plekkie te hê."

Anja gaan vanjaar onderwys aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) studeer.

SPELETJIES VANDAG

CTA