Matrieks

Ouma en matriek: gedugte span

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Mens hoor gereeld van ouers wat vir kinders klas gee, dis egter minder algemeen dat 'n ouma ook die rol van onderwyser vertolk.

Dis egter presies wat by die Swartruggens Gekombineerde skool in Noordwes gebeur het.

Viandri van Heerden saam met haar ouma, Suzet Rocher van Heerden. Viandri sê Suzet is nie net haar ouma nie, maar was ook haar onderwyser en vertolk die rol van 'n ma in haar lewe.
Viandri van Heerden saam met haar ouma, Suzet Rocher van Heerden. Viandri sê Suzet is nie net haar ouma nie, maar was ook haar onderwyser en vertolk die rol van 'n ma in haar lewe.

Die skool se hoofdogter van 2022, Viandri van Heerden, se ouma, Suzet Rocher van Heerden, het sommer twee matriekvakke vir haar gegee -rekenaartoepassingstegnologie en verbruikerstudies.

"Dit is 'n bietjie vreemd," sê Viandri laggend en verduidelik dat dit soms moeilik is om die onderskeid tussen "ouma" en "juffrou" te tref.

"Om by my ouma klas te kry was lekker, maar dis ook moeilik want sy is strenger met my as met die res van die kinders."

Viandri spog met akademiese erekleure en sê met tye moes sy op haar tande byt as "klein-dorpie-politiek" haar van die eer wou ontneem. "Mense het al sê ek vaar net goed omdat my ouma vir my klas gee, maar dis eintlik omdat ek regtig hard werk. My ouma het niks daarmee uit te waai nie, want sy wil hê almal moet regverdig behandel word."

Viandri vertel dat Suzet nie net die rol van ouma en onderwyser in haar lewe vertolk nie, maar ook "ma".

Viandri sê haar biologiese ma was baie jonk toe sy gebore is. "En sy het nie regtig kans gesien om 'n kind te hê nie".

Toe Viandri sewe jaar oud was, het sy permanent by haar ouma ingetrek. "Van daar af is ek en my ouma maar meer soos ma en dogter."

Ma en dogter, ouma en kleinkind, onderwyser en leerling.

"Ons het 'n baie spesiale verhouding."

Aanvanklik het Viandri gedink om na matriek by haar pa in Australië te gaan woon, maar intussen het sy besluit om regte te gaan studeer. Sy het voorlopige keuring by die Noordwes-Universiteit en Stellenbosch Universiteit.

Viandri het matriek met onderskeidings in Engels eerste addisionele taal en lewensoriëntering en universiteitsvrystelling geslaag.

Sy sê sy is 'n plaaskind in murg en been en al gaan sy "stad toe" om te studeer, sal sy steeds gereeld plaas toe gaan om by haar ouma te kuier.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM