Matrieks

Reg vir uitdagings ná swaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

‘Daar was tye wat ek vir die Here gevra het, hoekom ek?"

Dit is die vraag wat die 18-jarige Luyanda Hleza, 'n matriekleerling aan Proteahoogte Akademie, heeltyd gevra het nadat sy haar pa in Mei verlede jaar verloor het.

Luyanda Hleza (18) sê sy gaan veral haar pa se positiwiteit mis en pa-grappies wat hy altyd vertel het. Foto's: Verskaf
Luyanda Hleza (18) sê sy gaan veral haar pa se positiwiteit mis en pa-grappies wat hy altyd vertel het. Foto's: Verskaf

Luyanda vertel sy was gebroke toe sy die nuus ontvang dat haar pa, Wonderboy Hleza (49), se lyk in Du Toitskloofpas gekry is.

Hleza, van Brackenfell, is einde April 2022 as vermis aangemeld nadat hy die laaste keer in Sonkring gesien is. Sy lyk is saam met sy motorfiets meer as 'n week later gekry.

"Sy dood het 'n groot impak op my gehad. Ek was gebroke, want tussen hom en my ma is ek die meeste soos hy. Hy was 'n perfeksionis want hy was iemand wat sy werk op 'n sekere manier gedoen wou hê. Ek onthou ek het nog 'n toets gehad in daardie week toe hy vermis geraak het. Ek was bekommerd oor my pa én my akademie, en my familie en die skool het nog vir my gesê moenie bekommerd wees nie, jy sal uitstel kry om die toets weer te skryf.

"Ek is nie die tipe mens wat dinge half doen nie, want ek voel ek moet uitblink in my akademie en ek is ook nie iemand wat daarvan hou om 'n vak of toets te druip nie.

"Maar iets wat my ma vir my gesê het, was dat my pa altyd die tipe mens was wat gesê het ‘die lewe gaan aan', en dit is wat my deur die jaar aan die gang gehou het."

Volgens Luyanda het sy 'n maand lank aanlyn klasse gehad omdat sy oor haar pa se dood getreur het.

En omdat haar pa 'n aktiewe rol in haar lewe gespeel het, moes sy aanpas by die idee dat hy nie meer daar is nie. Maar, sê sy, haar pa se dood het iets goeds na vore gebring deurdat sy en haar broer, Wonderboy Junior, nader aan mekaar is.

Luyanda saam met haar pa, Wonderboy Hleza.
Luyanda saam met haar pa, Wonderboy Hleza. (SYSTEM)

"Jy weet, almal ervaar hartseer op 'n ander manier. My ma het nie net haar eksman verloor nie, maar sy het 'n ouerskapmaat verloor. Iets wat sy altyd gesê het, is dat sy 'n enkellopende vrou is en nie 'n enkelouer nie, want my pa was altyd daar. En my tantes en ooms het 'n broer verloor terwyl ek en my broer 'n pa verloor het wat 'n baie unieke ervaring is wat niemand anders om ons kon verstaan nie.

"Hy was ons pa en hy was altyd daar vir ons sedert geboorte. So op daardie manier kon ons mekaar troos en verstaan waar die ander een vandaan kom. En dit het 'n sterk band tussen ons twee gevorm. Ons kan nou selfs saam lag as iemand pa-grappies vertel. Voorheen as my pa dit sou doen, het ek en my broer nooit daarvoor gelag nie, maar nou het dit 'n nuwe betekenis," vertel Luyanda.

Sy sê sy gaan veral sy positiwiteit mis, sy liefde vir beplanning, maar ook vir die feit dat hy altyd gesê het dat sy haar lewe ten volle moet uitleef.

"Hy het altyd vir my gesê as jy nie beplan nie, beplan jy om te misluk. Want soos ek het hy stapels lêers en kalenders gehad om by sy beplanning te hou. Selfs met my eindeksamen en die dae wat ek nie lus was vir werk nie, het ek geweet ek moes dit doen, want dit was in my skedule. En as ek dit nie vandag doen nie, sal ek dit natuurlik môre moet doen en dit sal opbou, dan sal ek op die ou end angstig raak. So dit is die een les wat ek altyd van hom sal onthou.

"My pa het ook altyd gesê dat ek nie die lewe te ernstig moet opneem nie. Hy het soveel dinge gedoen soos rekspring en valskermspring en ek het altyd gevra, is jy mal om die goed te doen? Want ek is bang vir hoogtes. Dan sal hy altyd sê jy het net een lewe, so leef dit uit ten volle."

Sy sê alhoewel haar matriekjaar baie uitdagend en hartseer was, het gebed haar ook deur die jaar gehelp om kop bo water te hou. "Gebed het veral gehelp toe ek nie geweet het wat om te doen nie. Hy het my gehelp deur hierdie jaar. En ek is ook dankbaar vir my skool wat uit hul pad gegaan het om my te akkommodeer en seker te maak dat ek steeds suksesvol is. En laaste, maar nie die minste nie is ek baie dankbaar vir my ma wat op en af gery het om my werk te kry en dat sy my so ondersteun het."

Luyanda sê sy is veral opgewonde om vanjaar rekeningkunde te gaan studeer en wil graag eendag 'n geoktrooieerde rekenmeester wees.

Sy het matriek met universiteitsvrystelling en vyf vak-A's geslaag.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM