MySkool

Boland Landbou maak dit drie in ’n ry!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto:
Foto:

Die Hoër Landbouskool Boland se eerste rugbyspan het Saterdag net buite Riversdal verras deur die Hoër Landbouskool Oakdale 34-27 af te stof in hul interskolekragmeting.

Die Agter-Paarl se Landbouers (foto) het daarmee vir die derde agtereenvolgende jaar met hul SWD-eweknieë afgereken - dit nadat Oakdale, wat 'n baie suksesvolle seisoen beleef het, as die gunsteling weggespring het.

In die Westelike Provinsie - met verskeie van die voorste o. 19 A-spanne in reses voor die komende weke se aanslag - het Milnerton sy lys blink vertonings voortgesit deur die besoekende Hoërskool Stellenberg nael­skraap 14-12 te troef. In die natterige weer het die spanne mekaar goed vasgevat, met die uitslag wat enige kant toe kon gaan.

Die Hoërskool Durbanville kon op 'n sopnat veld nie die mas opkom teen die besoekende Hoërskool Outeniqua nie. Die gevolg was min konstruktiewe spel, met die George-manne wat 8-5 deurgeskuur het.

Die Hoërskool Tygerberg, wat 'n minder suksesvolle seisoen beleef, het verras deur die Hoërskool Strand se foute deeglik uit te buit en die besoekers 29-12 die kous oor die kop te trek. Daarmee het die Tiere vergoed vir hul vorige twee nederlae teen Strand. Onder volg al die naweek se beskikbare uitslae.

Sarel Burger

CTA