Vir 'n matriekleerling van die Hoërskool Punt in Mosselbaai was sy finale skooljaar moeilik, maar tog ook lekker.
Ruben de la Rey (18), wat oorspronklik van Pretoria is, sê toe hy saam met sy gesin in 2022 na Mosselbaai getrek het, was dit 'n moeilike begin vir hulle, en dat hy glad nie verwag het dat dinge so sal verloop nie.
"Ons het saam met my pa na Mosselbaai verhuis omdat hy hier 'n werk gekry het. Maar hy is ongelukkig later afgelê. Dit was bitter moeilik vir ons.
"Ons moes by die De Bakke Santos, 'n kamp- en karavaanpark, vir 'n ruk in 'n tent gaan woon totdat ons uiteindelik 'n huis gekry het. Ons het egter daar probleme ondervind en moes toe weer trek. Ons bly darem nou in 'n beter plek nie, maar dis nie so groot nie," sê Ruben.

Met die dat Ruben en sy familie plek moes vind om te bly was dit ook vir hom moeilik om al sy aandag by sy skoolwerk te bepaal.
"Ek het sowat twee weke van skool gemis. Ek moes hard werk en ekstra tyd insit om al my werk op te vang. My vriende het my ook gehelp deur hul boeke vir my te gee sodat ek kon sien watter werk ek nog moes doen.
"Die skool was van groot hulp en het gehelp dat ek in die koshuis kon gaan woon in die middel van die jaar.
"Hier kon ek beter studeer en op my skoolwerk fokus, want ek kon dit in stilte doen. Daar was wel hier en daar leerlinge wat geraas het, maar ek het deurgedruk.
"Dié jaar was baie lekker vir my. Ek het wel net nie gehou van al die lang toetse wat ons moes skryf nie," skerts hy.
Hy wil graag onderwys studeer.
Ruben het matriek met toelating tot diplomastudies geslaag.




















