Die matrieks van die nuut geakkrediteerde assesseringsliggaam die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (Sacai) het saam 1 032 onderskeidings behaal.
Dié 4 951 matrieks het verlede jaar die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen via afstandonderrig en by onafhanklike skole, Sacai se nismark, afgelê. Sowat 1 474 matrieks het met universiteitstoelating en 866 met toelating tot diplomastudies gematrikuleer.

Sacai se matriekslaagsyfer is 72%.
Luidens 'n verklaring het hierdie instellings geen beheer oor hul leerlinge se daaglikse aktiwiteite nie en wisselende grade van ondersteuning word aan die leerlinge gebied.
Dié instellings verskil van die meer konvensionele assesseringsliggame wat uitsluitlik in skole optree.
Danielle Vierbergen, 'n afstandonderrigkandidaat verbonde aan Teneo, is Sacai se top-matrikulant met sewe onderskeidings en 'n gemiddeld van 93,43%. Tristan Moodly en Chantelle Visser van Optimi, en Asma Paruk van Qurtuba Online het ook elk sewe onderskeidings behaal.
Daar was 89 eksamenlokale oor Suid-Afrika heen.
Die instellings wat die beste presteer het, is Qurtuba Online en Syllabus Learning.
Altesaam 17 onderrigsentrums en afstandonderrigverskaffers het 'n 100%-slaagsyfer behaal.
"Ons is baie trots op ons leerlinge en wens hulle geluk met hul resultate. Hulle pluk nou die vrugte van harde werk," sê Keith Maseko, uitvoerende hoof van Sacai.
"Ons wens hulle alle sukses toe vir die toekoms en met hul verdere studies."




















