"Met volgehoue moed en vasberadenheid het die Saheti School se 2022-matriekklas 266 onderskeidings gekry - dit is 3,4 onderskeidings per kandidaat."
So sê die Saheti School in Bedfordview, Johannesburg, in 'n verklaring oor die prestasie van sy matrieks van 2022.
"Die topagt-presteerders het onderskeidings in al hul vakke gekry."
Volgens die skool het 87% van sy 79 matrikulante onderskeidings gekry en 99% van die matrikulante het met universiteitsvrystelling geslaag.

Hannah Hill is die toppresteerder met 11 onderskeidings en 'n gemiddeld van 95%.
"Sy is uitgesonder as 'n uitstaande presteerder wat tel onder die top-5% van kandidate nasionaal in ses of meer vakke wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eksamens afgelê het. Sy was ook in die top-1% nasionaal in Afrikaans, Engels, inligtingstegnologie, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe en gevorderde Engels," lui die verklaring.

Ivan Chen en Keeran Moodley is gesamentlik in die tweede plek - die twee seuns het elkeen matriek met 'n gemiddeld van 90% geslaag.
Ivan spog met tien onderskeidings en Keeran met nege.
Oor Keeran skryf die Saheti School: "Hy is deur die IEB as 'n uitstaande presteerder - wat in ses of meer vakke onder die top-5% van kandidate nasionaal is - aangewys. Hy was ook onder die top-1% nasionaal in Engels, geografie en lewensoriëntering."
Stefanos Aristides en Shannon Tassopoulos het beide matriek met 'n gemiddeld van 88% geslaag. Stefanos het tien onderskeidings behaal en volgens die IEB was hy onder die top-1% op nasionale vlak in Engels en lewensoriëntering. Shannon spog met sewe onderskeidings en is aangewys as 'n uitstaande presteerder. Shannon was ook in Engels onder die top-1% nasionaal.

Die ander toppresteerders is Gianluca Caldeira (met 'n gemiddeld van 87% en agt onderskeidings), Katerina Chronias (met 'n gemiddeld van 83% en agt onderskeidings) en Jiatong Li (met 'n gemiddeld van 81% en sewe onderskeidings).
"Ek was nog altyd bewus van die skool se reputasie vir uitstaande akademiese prestasie en nadat ek onlangs by Saheti aangesluit het, is ek besonder trots om met hierdie dinamiese gemeenskap geassosieer te word," het Morag Rees, skoolhoof, oor die skool se matriekuitslae gesê.
Volgens hom getuig die matrikulante se uitstaande resultate van hul vasberadenheid en deurlopend harde werk. Hy het ook die onderwysers bedank en ouers wat betrokke is en sodoende 'n vennootskap vorm.














