"Maak nie saak hoe erg jou grootwordjare en of jou omstandighede was nie - daar is altyd goeie mense daarbuite wat jou potensiaal raaksien en bereid is om jou in te neem."
So sê Danie Erasmus (19) wat aan die Hoërskool Pretoria Tuine gematrikuleer het.

Danie het nie die maklikste kinderjare gehad nie. Hy moes op tweejarige ouderdom by ander familielede gaan woon.
"My ouers was nooit daar vir my nie. Ek weet glad nie wat die rede is nie. Ek neem maar aan hulle het glad nie daarin belanggestel om my groot te maak nie."
Danie erken dat die aanvanklike verwerping en die daaropvolgende ontwrigtings die lewe vir hom by tye baie moeilik gemaak het.
"Dit is maar uitdagend om in 'n huis te woon wat nie regtig jou eie is nie. Daar was baie jaloesie tussen my en my neefs. My punte was nie altyd so goed nie, omdat ek maar gesukkel het om te leer. Die ervaring het my wel 'n dieper insig oor die lewe gegee," het hy gesê.
In 2021, op die ouderdom van 18, het sy familie gesê hulle "kan ongelukkig nie meer na hom omsien nie".
Net toe Danie dink hy gaan op straat beland, het hy
Chantené Vermeulen (17) ontmoet. Haar familie het hom met ope arms in hul huis verwelkom.
"Ek is so dankbaar vir die Vermeulen-gesin. Nadat ek by hulle ingetrek het, kon ek dadelik 'n definitiewe verskil in my lewe sien. My punte lyk soveel beter. Daar is altyd liefde in hierdie huis, en ek kan dinge doen wat ek voorheen nie kon nie."
Volgens Danie het sy moeilike kinderjare hom beslis gevorm in die man wat hy vandag is.
"Ek het baie respek vir die lewe, en sien dinge beter en selfs dalk anders as tieners van my ouderdom. Ek het 'n breër perspektief van die lewe, wat dit behels en inhou - omdat ek op 'n vroeë ouderdom so vinnig selfstandig moes raak."
Danie het verlede jaar ingeskryf vir die Sondagkoerant Rapport se matriekafskeidskompetisie.
'n Weldoener het daarvoor gesorg dat hy en Chantené sy matriekafskeid kon bywoon.
"Ons het baie lank gespaar en hard gebid om Chantené se rok te betaal. Ek het toe gedink ek sou nie by my eie matriekafskeid kon wees nie omdat ek dit nie kan bekostig nie," het Danie destyds aan Rapport gesê.
Maar toe bied 'n anonieme weldoener aan om vir hom 'n pak klere te koop. Pienk is sy gunstelingkleur en dit was dus 'n maklike keuse vir hulle, sê hy. "Dit bring ons albei se sagte persoonlikhede uit."
Hy sê die kleurskema is ook 'n uitbeelding van dankbaarheid vir al die hulp wat hulle van weldoeners gekry het.
Danie hoop om vanjaar 'n ambag te voltooi en 'n passer en draaier te word, maar sy gróót droom is om te gaan boer.
"Ek sal baie graag in Suid-Afrika wil boer, aangesien ek 'n baie groot liefde vir ons land het. Boere speel 'n ongelooflike belangrike rol in die verskaffing van voedsel en produkte."




















