Vir iemand wat nog nooit vantevore deelgeneem het aan 'n skryfkompetisie nie, en ook nie 'n groot leser is nie, was dit vir SJ Botha van Komatipoort Akademie 'n groot verrassing toe daar 'n wenverhaal uit sy pen vloei. SJ het matriek met universiteitsvrystelling geslaag, en sê dat hy nie 'n gereelde skrywer (of leser) van stories is nie.
"Ek hou baie van stories, veral van fantasie, en as ons die opdrag kry om stories of opstelle te skryf in Afrikaans of Engels het ek altyd dit 'n fantasie-kinkel gegee. My Afrikaans-onderwyseres het my aangemoedig om vir die kompetisie in te skryf, en ek het amper die sperdatum laat verbygaan voordat ek wel besluit het om gou iets te skryf en te stuur," sê hy.

Die kompetisie waarin SJ toe uitgeblink het was aangebied deur InniBos. Dié organisasie het verlede jaar Komatipoort Akademie en nege ander skole, se gr. 10 tot gr. 12's genooi om deel te neem aan 'n skryfkompetisie en daar is 'n wenner gekies uit elke skool. Die wenverhale word in drie verskillende tale vertaal en gepubliseer in die boek Stories InniBos.
Slegs twee leerlinge van elke skool se verhale kon ingestuur word, waarvan 'n paneel beoordelaars die wenverhaal van elke skool gekies het.
SJ se inskrywing "Die Magiese Oorlogboom" is gekies as die wenopstel van sy skool. Dit is 'n fantasieverhaal met towerkuns, towenaars, bose konings en baie konflik.
"Ek is geïnspireer deur die fantasie en TV-programme wat ek kyk, en het my eie verbeelding net vrye teuels gegee. Ek het gedink die ander storie wat ons skool ingeskryf het, 'n moordverhaal, sou wen. Ek was baie verbaas en is steeds verbaas oor hoe baie mense van my storie hou. Natuurlik is ek baie trots en gelukkig ook," sê hy.
SJ het ook 'n kontantprys van R2 000 ontvang, maar hy vertel hy het nog net R200 daarvan uitgegee. "Ek spaar maar die res tot ek weer iets sien wat my oog vang!"
SJ is nog nie presies seker watter rigting hy vanjaar wil inslaan nie, maar dit gaan waarskynlik iets met rekenaarprogrammering te make hê.
"Ek sal beslis aanhou skryf soos wat ek tyd het en soos die inspirasie my tref. Mense wat my storie gelees het meen ek moet dit uitbou in 'n boek. Ek is baie trots daarop dat mense my storie lees en dat dit in ander tale vertaal gaan word. So, as ek kan sal ek beslis die storie wil uitbrei."



















