Matrieks

Skotse dans sy passie

Hy dans al vandat hy kan loop en het alles van hip-hop en straatdans tot moderne en kontemporêre dans probeer totdat hy Spaanse en Skotse dans ontdek het. Hiér lê sy ware passie, vertel Garren Beaven wat matriek aan die Hoërskool Randburg met drie onderskeidings, in lewensoriëntering, dans en drama, geslaag het.

"Ek het in gr. 4 met Spaanse dans begin, en in gr. 8 Skotse Hoogland-dans ontdek nadat 'n meisie by die skool 'n vertoning daarvan kom gee het. Ek het haar ná die tyd gevra watter dans dit is en waar sy dit leer. Só het ek die Robinson Dans Studio in Robin Hills ontdek en ook begin om dié fassinerende Skotse danspassies aan te leer."

Garren Beaven in sy Skotse rompie, gereed vir 'n danspassie.
Garren Beaven in sy Skotse rompie, gereed vir 'n danspassie.

Hoogland-dans vereis totale beheer, koördinasie en fokus. Dit verskil van Ierse dans deurdat dansers hul hele liggaam gebruik en ook meestal met sagte skoene dans. Garren is die enigste seun by die ateljee waar hy dans.

"Die ander dansers het soos my familie geword, en dis baie spesiaal om saam te dans en aan kompetisies deel te neem."

Garren het verlede jaar aan drie kompetisies deelgeneem en uitgeblink. Op die All Africa-kampioenskap het hy drie derde plekke in die 17+-ouderdomsgroep behaal. Op die Pretoria Boys Highland Gathering kon hy met twee eerste plekke en 'n tweede plek (in die 16+-ouderdomsgroep) spog en op die Northern Johannesburg Highland Gathering het hy weggestap met 'n eerste plek, 'n tweede plek, twee derde plekke, 'n vierde en 'n vyfde plek (17+-ouderdomsgroep).

Sommige danse word in hierdie vlootuitrusting uitgevoer.
Sommige danse word in hierdie vlootuitrusting uitgevoer.

"Aan die begin was ek baie skaam en angstig wanneer ek aan kompetisies moes deelneem. Maar ek het gou besef mense hou daarvan om 'n seun tussen al die meisies te sien dans, en dit het my selfvertroue gegee. Mense kom gereeld ná die kompetisies na my toe en sê hoe hulle dit geniet het om my te sien dans."

Garren sê al is sy skooldae nou verby, is sy dae as Skotse danser allermins iets van die verlede.

"Ek gaan beslis aanhou daarmee. Ons gaan vanjaar in Augustus aan die Wêreldkampioenskap deelneem wat in Skotland plaasvind. Ek kan nie wag om soontoe te gaan en meer te leer oor hierdie manier van dans nie. Ek wil saam met iemand sit dat hulle vir my vertel van die geskiedenis en die tradisies."

Garren het by drie universiteite aansoek gedoen om regte te studeer, maar hy oorweeg dit om vanjaar "af" te vat en te besluit presies watter rigting hy wil inslaan.

Karla Janse van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM