
Rayyan Ebrahim (18) van Pinelands High School in Kaapstad is die klas van 2024 se toppresteerder in openbare skole.
Rayyan het Maandagaand opgewonde aan Netwerk24 gesê dis vir hom 'n groot eer dat sy harde werk deur die departement raakgesien is.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het Maandag die matriekuitslae van die klas van 2024 by die Mosaïek-kerk in Fairland, Johannesburg, bekend gemaak.
Toppresteerders van oor die land heen is hier vereer.
Veral die kwintiel 5-skole in die Wes-Kaap het uitstekend gevaar en skoonskip gemaak in dié kategorie.
Kwintiel 1-skole is dié wat maatskaplik-ekonomies die swakste daaraan toe is en kwintiel 5-skole is die beste daaraan toe. Faktore soos inkomste, geletterdheid en werkloosheid in die omgewing waar die skool geleë is, word in ag geneem om te bepaal in watter kwintiel 'n skool is.
Owethu Shangase (17) is die toppresteerder in private skole wie se leerlinge ook die NSS-eksamen afgelê het. Hy sê hy het in sy wildste drome nie dié toekenning verwag nie. Hy het aan die skool John Wesley Kosi Bay in KwaZulu-Natal gematrikuleer.
"Ek is totaal en al oorweldig. Ek wil oor die maan spring; eintlik nie eens nie, ek wil oor die son spring. Ek het waarskynlik gewens om hierheen genooi te word, maar ek sou nooit kon raai dat dit sou gebeur nie."
Owethu gaan vanjaar aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad studeer.
Rayyan sê dit het nog nie heeltemal by hom ingesink dat hy die toppresteerder in die land is nie.
"Ek is baie dankbaar. Ek is baie verlig."
Hy sê hy is optimisties oor die land se toekoms. Volgens hom moet gehalte-onderrig die rigting van die land aanwys en moet dit met die nodige agting gehanteer word. Rayyan meen dit sal die land vorentoe neem en 'n positiewe toekoms skep.
Hy gaan vanjaar datawetenskap aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Matthew Wise (18), ook van Pinelands High School, is ook optimisties oor die toekoms van die land en sê hy wil graag 'n bydra lewer. Matthew sê dis vir hom 'n groot eer om een van die toppresteerders te wees.
Matthew is die tweede beste presteerder in die land in die kwintiel 5-kategorie.
"Dis belangrik om in die land te bly en nie net beter geleenthede na te jaag nie. Ons moet help om ons land te ontwikkel."
Hy gaan vanjaar statistiek en datawetenskap aan die Universiteit van Kaapstad studeer.
Hy sê hy sien goeie tekens van vordering in die land en hy meen as meer mense in die land bly en geleenthede skep, sal die land vorentoe beweeg.
Matthew se raad aan die klas van 2025 is om 'n goeie balans te handhaaf.
"Dis belangrik om 'n blaaskans te vat en te herlaai. Familie en vriende is ook belangrik."

Nicholas Schreiber (18) van Rondebosch Boys High in Kaapstad sê dit was fantasties om deel van die geleentheid te wees. Nicholas is die derde beste presteerder in die kwintiel 5-kategorie.
"Dit was fantasties om die ander toppresteerders te ontmoet, maar dit voel so onwerklik. Ek het aan die begin van my matriekjaar natuurlik gehoop om te presteer en nou om hier te wees, voel ongelooflik.
"Ek het nie regtig verwagtinge gehad om te sê ek soek 100% vir elke vak nie, maar dis lekker om hier te wees."
Nicholas wil 'n geoktrooieerde rekenmeester word en gaan aan die Universiteit van Kaapstad studeer.
Hy meen daar is beslis hoop onder die jeug vir die toekoms van Suid-Afrika.
"Ons het 'n enorme jeugbevolking en dit is fantasties. Ek glo ons lê nou 'n goeie grondslag vir die toekoms en ons gaan 'n sterk arbeidsmag hê met hopelik baie innovering," het hy aan Netwerk24 gesê.
Ander leerlinge is ook in die verskeie kwintiele vereer.





















