Matrieks

Trinity House blink weer uit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Trinity House in Randparkrif, Johannesburg, spog nie net met 'n 100%-matriekslaagsyfer nie - 97% van sy 112 matrikulante het minstens twee onderskeidings behaal.

Farone Eckstein, skoolhoof, het Woensdag aan Netwerk24 vertel hoe trots hulle op die klas van 2022 is.

Farone Eckstein, skoolhoof van Trinity House in Randparkrif, sê hulle is baie trots op die klas van 2022.  Foto: Melinda Stuurman
Farone Eckstein, skoolhoof van Trinity House in Randparkrif, sê hulle is baie trots op die klas van 2022. Foto: Melinda Stuurman
Paige Salis en Priscilla Nyikavaranda, twee matrikulante van Trinity House in Randparkrif, was baie tevrede met hul uitslae.  Foto: Melinda Stuurman
Paige Salis en Priscilla Nyikavaranda, twee matrikulante van Trinity House in Randparkrif, was baie tevrede met hul uitslae. Foto: Melinda Stuurman

"Ons is baie gelukkig, dankbaar en geseënd. Dit was 'n goeie jaar en ons ervaar vanoggend net positiewe emosies."

Volgens Eckstein is hulle baie optimisties oor wat die toekoms vir die klas van 2022 inhou. Daar is baie talent en leerlinge wat die nodige harde werk ingesit het.

In Trinity House se 25-jarige bestaan het hy nog elke jaar 'n 100%-matriekslaagsyfer behaal.

93% van verlede jaar se matrieks het met universiteitsvrystelling geslaag.

Hy sê die skool het 'n pad met die 112 kandidate gestap om nie net akademies goed te vaar nie, maar ook sielkundig die regte ingesteldheid vir die matriekeksamen te hê.

"Ons is 'n skool wat ons leerlinge volgens Christen-beginsels opvoed en ons het hulle aangemoedig om die eindeksamen in God se hande te plaas," sê Eckstein.

Eckstein sê hy wil die klas van 2022 aanmoedig om vir die sterre te mik.

Nina Swart (18), Trinity House se topmatrikulant, sê sy is baie tevrede met haar uitslae. Om vir die matriekeindeksamen voor te berei, was vir haar " 'n lewenslange proses".

"My ouers het my sedert my kinderdae aangemoedig om besig te bly. Ek is baie dankbaar vir hulle."

Sy was nie net op die netbalbaan besig nie, maar het ook drie ekstra vakke geneem: gevorderde wiskunde, musiek en biologie.

"Dis belangrik om seker te maak dat daar 'n balans tussen alles is. Al my aktiwiteite het my vervul laat voel."

Nina pak eersdaags haar studies in ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch aan.

Dean Matthysen (18) gaan vanjaar in die VSA op 'n plaas werk.  Foto: Melinda Stuurman
Dean Matthysen (18) gaan vanjaar in die VSA op 'n plaas werk. Foto: Melinda Stuurman

Dean Matthysen (18) vertel hy het Dinsdagaand min geslaap en was baie gespanne oor sy uitslae.

"Dit was moeilik om gefokus te bly deur die hele eksamen. Ek het gedoen wat ek kon en ure ingesit om voor te berei."

Dean skerts dat hy net daarna gemik het om te slaag.

Sy plan is om sy liefde vir boerdery vanjaar in die VSA voort te sit.

Paige Salis (18) kon Woensdagoggend nie ophou glimlag nie.

"Al die harde werk was die moeite werd. Ek gaan die gevoel van gemeenskap by die skool mis, en veral pouses," sê Paige.

Sy is op pad na die Universiteit van Pretoria vir 'n BSc-graad in sielkunde, fisiologie en genetika.

Trinity House lê die matriekeksamen van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) af. 13 525 matrieks het verlede jaar dié eksamen afgelê.

Twee matrikulante van Trinity House kom haal Woensdagoggend hul uitslae by hul alma mater.  Foto: Melinda Stuurman
Twee matrikulante van Trinity House kom haal Woensdagoggend hul uitslae by hul alma mater. Foto: Melinda Stuurman

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM