Sy het dalk Sarie se Nuwe Gesig 2022 gewen en op die tydskrif se voorblad gepryk, maar Lindy Maree (18) is net so gemaklik in die buitelug as voor 'n kamera.
"Ek en my sussie Nicole (20) gaan stap graag met ons hond, Angel, en ek maak seker ek kom elke dag by die gim uit om stres teë te werk. Ek kan nie net in my kamer wees nie," sê die oudleerling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool, wat matriek met vier onderskeidings geslaag het.

Angel is by die DBV aangeneem en het diep in die harte gekruip van die sussies, hul ma, Mariana, wat met huislenings werk, en pa, Hennie, 'n sakeman.
Aanvanklik het Lindy gedink om ontwerp te gaan studeer, maar sy begin vanjaar met sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Tukkies, waar haar sussie BSc studeer, is om die draai van hulle, maar Lindy wou graag haar vlerke sprei.
"Ek weet dit beteken ek los alles wat bekend is agter, maar ek sien uit daarna. Ek is dan ook in die Kaap om die bande wat ek tydens die Sarie-kompetisie gesmee het, te versterk. Indien my tyd nou buigsamer is, wil ek beslis meer modelwerk doen."
Sy stel nog altyd belang in hoe ander mense se koppe werk. Sielkunde was dus vir haar 'n logiese keuse, maar sy gaan ook kriminologie deur Unisa studeer. "Ek wil graag 'n kriminele sielkundige word. Ek het met 'n sielkundige daaroor gepraat en sy sê daar is eintlik min mense wat lank in die veld bly, want jy word aan baie slegte dinge blootgestel, so jou karakter en mindset moet sterk wees."
Maar Lindy het nog nooit omgegee om volgens haar eie deuntjie te dans nie. Sy beskryf haar modesin as "anders as dié van my vriendinne".
"Ek sal vir hulle wys iets is mooi en dan sal hulle sê dis iets wat net by my sal pas. Ek hou van meer volwasse ontwerpe en van 'n klassieke voorkoms."
Jy sal haar nooit in 'n oorgroot hemp vang wanneer sy vinnig uit die huis glip nie. "Ek maak altyd seker ek lyk goed voordat ek uitgaan, want dis vir my belangrik. Ek het nooit 'n dag wat ek voel ek kan nie in iemand raakloop omdat ek nie goed lyk nie, maar dis net hoe ek is," sê sy.
Lindy dink dit is belangrik om jou eie menswees en waarvan jy self hou te ontdek.
"En as ek raad kan gee vir ander, is dit om van die begin af hard te werk. Moenie wag vir gr. 11 of matriek nie. As jy van die begin af hard werk, kan jy die lewe hê waarvan jy droom. En omring jouself met die regte mense wat jou ondersteun."



















