Taryn van den Berg (18) ken van onderhoudend gesels. Sy het in gr. 10 reeds die topsprekers uitgestof en was die nasionale wenner van die ATKV-redenaarskompetisie in die Afrikaans-huistaal-afdeling vir leerlinge in gr. 10 tot gr. 12. Al het sy nie weer in haar hoërskooljare aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria met dié titel weggestap nie, het sy nooit ophou deelneem nie.
"Dit was steeds heerlik om debat en redenaars te doen. Ek en my debatmaat kyk klaar hoe ons dalk kan help om vanjaar kinders af te rig, want my afrigters was wonderlik en het 'n besondere invloed op my lewe gehad."
Lielie Viljoen, een van haar afrigters, het Taryn ook ondervinding gegee in haar ander passie: veeartsenykunde. "Lielie is 'n veearts. Haar pa het 'n veearts-praktyk hier in Pretoria en ek het gereeld daar skaduwerk gedoen. Ek kon bystaan met konsultasies wanneer die dier se eienaar ingestem het, maar ek sou sommer hokke ook was. Ek het net soveel moontlik probeer leer."

Sy het dit so geniet, sy studeer vanjaar aan die Universiteit van Pretoria om 'n veearts te word nadat sy matriek met agt onderskeidings geslaag het. "Ek wil 'n báie goeie veearts wees en nie net die diere nie, maar ook die mense met wie ek werk se lewe op 'n positiewe manier verander."
Al is haar ouma Sonja Lourens (74) Duits - en is een van Taryn se onderskeidings juis in dié taal - sal sy nie maklik die land verlaat nie.
"Ons het eintlik as gesin al baie gepraat daaroor, maar ek dink daar is groot en goeie goed wat op ons wag in ons land. Ek het 'n onderwyser gehad wat my ekstra klasse in wiskunde en wetenskap gegee het, en hy het altyd gevra wat doen jy self om die wêreld 'n beter plek te maak. Dit het my laat dink. Ek wil help om ons land 'n beter plek te maak."
Taryn is 'n bietjie skaam om met haar ouma Duits te praat, maar ouma Sonja is in die wolke wanneer haar kleindogter dit wel doen. "Ek is lief vir tale en het daarom besluit om dit ook te neem. Dis darem iets anders as die meer wiskundige vakke."
Hul hele gesin hou daarvan om ander te help. Ma Michelle is 'n algemene praktisyn, pa Ruan 'n sakeman en haar sussie, Carla (23), gaan nou medies studeer aan die Universiteit van Bloemfontein nadat sy reeds 'n graad in arbeidsterapie verwerf het.
Haar pasiënte moet maar weet sy gaan lekker met hulle gesels en debatteer, sê Taryn.
"Dit kom baie natuurlik vir my. Toe ons die dansbaan moes open op die matriekafskeid, het ek eintlik gehoop ek kon voor 'n saal vreemde mense staan en 'n toespraak lewer eerder as om dit te doen," sê sy skertsend.
"Nou moet ek net my kennis aan ander oordra soos dit aan my geleer is."




















