Toe Daniël van Wyk (19) en sy ma, Aldia, op Nuwejaarsdag in 2020 met hul perde teen 'n bult uitry, het hy nooit gedink sy lewe sou in 'n oogwink verander nie. Hy het afgeval, sy bewussyn verloor en Aldia en haar man, Frans, het dadelik geweet daar is groot fout.
Hy is in 'n trauma-waakeenheid opgeneem waar hy aan 'n respirator gekoppel en in 'n geïnduseerde koma geplaas is. In hierdie tyd is dié Hoërskool Waterkloof-leerling drie keer byna dood. Ná meer as vyf weke in die geïnduseerde koma het hy die skoknuus gekry toe hy sy bewussyn herwin: Hy is van sy middellyf af verlam weens 'n prosedure wat verkeerd gegaan het.
"Ek was 70 dae in die trauma-eenheid en toe skuif ek na die rehabilitasiesentrum. Ek kan min van my tyd in die trauma-eenheid onthou, maar ek het altyd geweet dit gaan my nie onderkry nie."
En soos Daniël in die leeukuil, het hy elke uitdaging oorleef en te bowe gekom.
"Ek onthou toe ek mooi by was, het ek my ouers gevra of ek moes val om 'n gap-jaar te kry, want die plan was altyd om te swot en klaar te kry," skerts hy.
Maar van stilsit weet hy niks. Hy het byna dadelik begin tennis speel nadat Patrick Selepe, 'n voormalige Suid-Afrikaanse rolstoeltennisspeler, hom gehelp het om die regte rolstoel te kry en Daniël en sy afrigter touwys gemaak het oor rolstoeltennis. Hy het ook sommer diskusgooi, spiesgooi en gewigstoot begin doen en het verlede jaar op die Suid-Afrikaanse Paralimpiese Kampioenskappe goue medaljes in al drie items gewen. Hy het Suid-Afrika in Oktober by die Brics- internasionale tenniskampioenskap in Durban verteenwoordig.
Hy is selfs terug op die perd, De Wet, waarmee hy geval het. "Van ons vriende het my gehelp om vir my 'n spesiale saal te maak en De Wet is soos 'n hond, hy loop agter jou aan en vryf graag sy kop teen jou."
Hulle het in 2021 en 2022 provinsiale kleure in die Western Mounted Games verwerf. Daniël spog ook met 'n goue penning en erekleure in tennis, atletiek en perdry.
Hy het matriek met twee onderskeidings geslaag en wag steeds op die uitslag van een van sy vakke wat hy vanweë die Brics-byeenkoms later moes skryf. Hy hoop om vanjaar 'n paar vakke aan die Universiteit van Johannesburg te doen terwyl hy besluit in watter rigting hy wil studeer. "Die koshuis daar is ingerig vir gestremdes," sê hy opgewonde.
Hy wou graag 'n vlieënier geword het en as dinge volgens plan verloop het, sou hy reeds besig gewees het met sy vlieglisensie. "Nou moet ons maar sien. Ek hoop steeds ek kan 'n pilot word, ons wag om van ander universiteite ook te hoor."
Wanneer sy ouers by hom in die hospitaal gaan kuier het, het hulle gereeld dieselfde teksgedeelte, Efesiërs 3:20-21, vir hom gelees, wat hy in Engels kan opsê.
"Dat God die beste vir my wil hê, help my om positief te bly."





















