Vrystaatse matrikulante meen Donderdag se letterkunde-vraestel in Afrikaans huistaal was redelik.
Hoewel daar moeilike vrae was, meen die leerlinge met wie Netwerk24 gepraat het dat hulle goeie punte sal behaal.

By die voorgeskrewe gedigte moes leerlinge vrae oor twee van vier gedigte beantwoord. Die opsies was "Wie's Hy?" van Adam Small, "'n brief van hulle vakansie" deur Breyten Breytenbach, Fanie Olivier se "besoekersboek" enen "Twee kleuters in die Vondelpark" deur Elisabeth Eybers.
Die vraag oor die ongesiene gedig, "Ek skryf . . ." deur Pieter-Louis Myburgh, was verpligtend.
By die prosa-afdeling moes hulle of 'n opstel- of kontekstuele vraag oor een van die romans beantwoord: Die kwart-voor-sewe-lelie deur Eleanor Baker, Pieter Pieterse se Manaka plek van die horings, A.H.M. Scholtz se Vatmaar en Fanie Viljoen se Onderwêreld.
Leerlinge moes by die drama-afdeling of 'n opstel- of kontekstuele vraag beantwoord oor Mis deur Reza de Wet of Krismis van Map Jacobs deur Adam Small.
Indien hulle in die prosa-afdeling 'n kontekstuele vraag beantwoord het, moes hulle in die drama-afdeling 'n opstelvraag kies en andersom.
"Die vraestel was beter as wat ek verwag het. Die ongesiene gedig was orraait en was nie te moeilik nie," sê Franco de Boer, matrikulant aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem.

By die vrae oor "besoekersboek" het dit taamlik goed met hom gegaan. Die vrae by Breytenbach se gedig was vir hom effens moeiliker, maar beantwoordbaar.
Onderwêreld se kontekstuele vrae was vir hom nogal moeilik, maar Mis se langvraag was nie te moeilik nie.
Carla Crous, 'n leerling van die Hoërskool Trio, sê diegene wat geleer het, behoort goed te vaar. Veral die poësie-afdeling was vir haar maklik. Sy het ook Olivier en Breytenbach se gedigte gekies.
Carla het die ongesiene gedig baie geniet en relatief maklik gevind, maar was onseker oor die antwoord by vraag 5.6.
Daar moes hulle vir een punt sê watter retoriese middel gebruik word om die titel van die gedig te ondersteun.
Onderwêreld se kontekstuele vrae was vir haar billik. Sy was egter onseker by vraag 13.11.2.
Daar word gevra watter karaktereienskap van Eckardt en meneer Owen veroorsaak onderskeidelik dat hulle in die verhaal in 'n figuurlike donkerte verkeer.

Sy het lekker aan Mis se langvraag geskryf.
"Ek dink dit was taamlik goed. Daar was hier en daar 'n vraag waarmee mens gesukkel het, maar dit was billik," sê Liandré Long van die Welkom-Gimnasium oor die vraestel.
Liandré het dieselfde voorgeskrewe gedigte as die ander twee gekies, en sê dit was makliker as verwag.
Die vrae oor die ongesiene gedig was vir haar veel makliker as dié van vorige matriekeindeksamens.
Onderwêreld se opstelvraag was vir haar 'n bietjie moeilik. Sy het nie vir so 'n vraag voorberei nie, maar kon dit na aanleiding van haar kennis oor die roman beantwoord.
Sy het nog nie voorheen so 'n langvraag oor die roman gesien nie.
Dit het met haar goed gegaan by Krismis van Map Jacobs se kontekstuele vrae, hoewel die laaste vraag van twee punte meer insig geverg het, sê sy.

















