Melissa Müller (18), 'n oudleerling van die Rhenish Girls' High School, is Dinsdagoggend as die Wes-Kaap se topmatrikulant aangewys, terwyl die Bishops Diocesan College wegstap as die skool wat die beste gevaar het in verlede jaar se matriekeksamen.
Die toppresteerders van verlede jaar se matriekklas in die Wes-Kaap is by die premierswoning, Leeuwenhof, in Kaapstad vereer.

Die premier, Alan Winde, het aan die toppresteerders gesê hulle is die toekoms. "Vandag vier ons jul harde werk en die ekosisteme wat julle toegelaat het om te seëvier."
David Maynier, LUR vir onderwys, sê die provinsiale matriekslaagsyfer het vir die derde agtereenvolgende jaar gestyg en het op 81,54% in 2023 gestaan.
Die Wes-Kaap het ook 42,2% matrikulante gehad wat met matriekvrystelling geslaag het. Dit is die hoogste persentasie nog in die provinsie. Wes-Kaapse matrikulante het ook die beste slaagsyfer vir wiskunde (75,4%) en fisiese wetenskappe (82,2%) behaal.
Maynier sê dié onderwysdepartement het ook die naasmeeste onderskeidings met 24 982 vakonderskeidings.
Maynier is veral trots daarop dat die departement se deurvoerkoers tot 69,3% toegeneem het vir die aantal matrikulante vir 2023 wat in dieselfde gr. 10-klas was.
Die Wes-Kaap het in die afgelope sewe matriekeindeksamens die topkandidaat in die land opgelewer. In die laaste vyf jaar het die provinsie ook die topkandidaat vir wiskunde opgelewer.

Behalwe dat Melissa ook die topmatrikulant in die land is, is Ethan Myers van die Herzlia High School die onafhanklike topmatrikulant in die land.
Jared Benn van die Wynberg Boys' High School is tweede in die land en is die beste in fisiese wetenskappe en Samkelo Gumada van die Athlone Skool vir Blindes is die toppresteerder onder matrikulante met spesiale behoeftes in die land.
Victor Mapolisa, ook van die Athlone Skool vir Blindes, beklee die derde plek in spesialebehoeftes-onderwys en Amahle Jemane van die De La Bat-skool is tweede in Suid-Afrikaanse Gebaretaal.
Aan die matriekklas van 2023 het Maynier gesê: "Ons is so trots op julle en jul toewyding en harde werk. Hou vas aan jul dryfkrag en vasberadenheid: Dit sal julle goed dien in die jare wat voorlê. Wanneer ek ook al met ons toppresteerders praat, en inderdaad met enige van ons matrikulante, kan ek nie help om optimisties te voel oor die toekoms wat ons matrikulante ons sal help bou nie. Julle is 'n besonders talentvolle groep jong mense."

Winde het melding gemaak van hoe baie leerlinge daagliks toestande moet trotseer wat nie bevorderlik vir leer is nie.
"Ons het kinders wat moet koes vir koeëls en ander wat by dwelms ingesleep word," sê Winde.
Hy sê hy hoop elke kind sal volhard in hul drome. "Wie weet, miskien sit hier 'n toekomstige premier voor my vandag. Neem wyse besluite en stel jouself in staat om die wêreld 'n beter plek te kan maak."
Rehana Harneker, adjunkhoof van die Spine Road High School in Mitchells Plain, sê dit is die eerste keer in haar 38 jaar wat sy by die skool is dat hulle onder die 20 topskole in die provinsie gelys is.
Die Spine Road High School was 20ste. "Ons was verbaas, maar ons het leerlinge en onderwysers wat toegewyd en hardwerkend is. Hierdie eerbewys is vir al hul harde werk," sê Harneker.
Harneker meen om te kan kompeteer met al die skole in die provinsie en 20ste op te eindig, "en dit nog 'n skool van Mitchells Plain", wil gedoen wees.
Harneker sê haar skool het 142 wiskundekandidate gehad en 140 het geslaag. Hulle het 'n 85%-graadvrystelling gehad en uit die 228 matrikulante het 226 geslaag.
Shahen Chase (18) van die Norman Henshilwood High School in Plumstead het die ministeriële eerbewys ontvang.

Hy het aan Netwerk24 gesê hy het in middel Julie 2020 in sy slaap 'n toeval gekry. Toe hy die oggend opstaan, het hy " 'n bietjie pyn in sy rug gehad".
Later het hulle uitgevind hy het sy werwels op drie plekke gebreek en het chroniese osteoporose.
"Alles het so uit die bloute gebeur," sê Shahen. Shahen het gefokus gebly op sy toekoms en dit was sy doelwit in die lewe om graag matriek te voltooi.
"Ek is baie trots op myself dat ek met matriekvrystelling geslaag het," sê hy. Shahen, wat 'n onderskeiding in lewensoriëntering losgeslaan het, beoog om 'n graad in inligtingstegnologie en besigheidstelsels aan die Rosebank College te swot.
Sanele Koeberg van die Eden Technical High School het ook 'n ministeriële eerbewys ontvang.
Hy is in 2022 vir matriek ingeskryf, maar 'n gebreekte enkel in April daardie jaar het gelei tot 'n skokkende diagnose van akute myeloïede leukemie.
Sanele het 'n operasie vir sy enkel ondergaan en weke in die hospitaal deurgebring. Sy verswakte immuunstelsel het tot 'n infeksie gelei wat hom verhoed het om voort te kan gaan met sy skoolloopbaan.
Sanele het op 1 Maart verlede jaar weer vir matriek ingeskryf, 15 dae voor sy eerste eksamens. Hy het sy matriek met matriekvrystelling geslaag.
Melissa het Dinsdag aan Netwerk24 gesê sy is opgewonde om haar studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) Donderdag te begin. Sy gaan megatroniese ingenieurswese swot en gaan in Huis Ten Bosch tuisgaan.
"Ek is 'n bietjie senuagtig oor die verwagtinge wat my dosente gaan hê, maar ek doen ook die beste as ek onder druk is, so ek sien uit daarna," sê Melissa.
Sityhilelo Ntamo, skoolhoof van die Joe Slovo High School, sê dit is harde werk van leerlinge en sy personeel wat daartoe gelei het dat die skool Dinsdag met vier eerbewyse weggestap het.
Die Joe Slovo High School was die openbare skool wat die meeste verbeter het en ook die tegniese skool wat die meeste verbeter het. Die skool was agtste op die lys van skole wat die beste toename in die persentasie matriekvrystellings gehad het en was vyfde in die kategorie vir skole wat die beste verbetering in slaagsyfer getoon het.
"Die eerbewyse motiveer ons sommer vir die jaar wat voorlê," sê Ntamo. "Ons wil, en sien nou dat ons kan, beter doen. Ons sal aanhou die ekstra myl loop om ons leerlinge die beste moontlike toekoms te verseker."
Openbare skool wat die meeste verbeter het
1. Joe Slovo Secondary School
2. Haarlem Sekondêre Skool
3. Bulumko Secondary School
4. Forest Heights High School
5. Uxolo High School
6. Nomzamo High School
7. Desmond Mpilo Tutu Secondary School
8. Sinethemba Secondary School
9. Khanyolwethu Secondary School
10. Indwe Secondary School
Grootste verhoging in die persentasie matriekvrystellings:
1. De Rust Futura Akademie
2. Zonnebloem Nest Senior School
3. Hoërskool Diazville
4. Emil Weder Sekondêre Skool
5. Bloekombos Secondary School
6. Buren High School
7. Uxolo High School
8. Joe Slovo Secondary School
9. Bulumko Secondary School
10. Hoërskool Zandvliet
Grootste verhoging in persentasie in die totale aantal vakonderskeidings:
1. Hoërskool Lutzville
2. Claremont High School
3. Parel Vallei High School
4. Simon's Town School
5. Protea Heights Academy
5. Buren High School
Uitnemendheidseerbewyse
In wiskunde: Diocesan College en Herschel Girls School
In fisiese wetenskappe: Diocesan College
In Engels huistaal: Springfield Convent of the Holy Rosary
In Afrikaans huistaal: Hoër Meisieskool Bloemhof
In Xhosa huistaal: Centre of Science and Tecnology
Topmatrikulante:
1. Rhenish Girls' High School, Melissa Müller
2. Wynberg Boys' High, Jared Ryan Benn
2. Herzlia High School, Ethan Myers
3. Star College Bridgetown, Faraaz Parker
4. Rhenish Girls' High School, Lilly Hobbs
4. Rustenburg Girls' High School, Caitlin Anstey
20 Topskole in die Wes-Kaap vir 2023:
1. Diocesan College
2. Herschel Girls School
3. Rustenburg Girls' High School
4. Westerford High School
5. Hoër Meisieskool Bloemhof
6. Rhenish Girls' High School
7. Springfield Convent of the Holy Rosary
8. Rondebosch Boys' High School
9. Paarl Girls High School
10. S.A. College High School
11. Paul Roos Gimnasium
12. Parel Vallei High School
13. Parklands College
14. La Rochelle Girls' High School
15. Wynberg Girls' High School
16. Hoërskool Gimnasium Paarl
17. Hoërskool D.F. Malan
18. Fairmont High School
19. Pinelands High School
20. Spine Road High School




















