Matrieks

Wiandré wil altyd jukskei speel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Wiandré van Deventer was in 2022 die o.19-mansjukskeispan se kaptein. Hy het aan die Afrikaanse Höer Seunskool gematrikuleer.
Wiandré van Deventer was in 2022 die o.19-mansjukskeispan se kaptein. Hy het aan die Afrikaanse Höer Seunskool gematrikuleer.

Jukskei is nie 'n sport vir "oumense" nie; dit strek oor alle ouderdomsgroepe en almal kan saamspeel.

So sê Wiandré van Deventer.

Wiandré was in 2022 die kaptein van die nasionale o/19-mansjukskeispan wat in Namibië deelgeneem het.

Sy passie vir jukskei het selfs gesorg dat hy op die radiostasie, RSG, daaroor kon praat.

"Ek speel nou al so lank en elke jaar keer ek terug en ek neem weer deel," sê Wiandré. Hy sê dat hy, danksy jukskei, "baie lekker herinneringe saam met ongelooflike mense" gemaak het en dat hy spog met vriende van alle ouderdomme.

"Jukskei se ouderdomskategorie strek van o.13 tot bo 60. Wat jukskei so lekker maak is almal ding teen mekaar mee.

"Ek speel oor naweke in 'n klubliga en ek speel saam met ooms en tannies wat so oud is soos my oupa en ouma. Dit is vir my wonderlik."

Wiandré het in 2015, toe hy in gr. 5 was, begin jukskei speel. Die sport het ook 'n rol gespeel toe hy moes kies na watter hoërskool hy gaan. By die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria (Affies) is jukskei 'n amptelike sport.

Wiandré het met drie onderskeidings (in Engels eerste addisionele taal, rekeningkunde en lewensoriëntering) en universiteitsvrystelling gematrikuleer.

Hy hoop om vanjaar B.Com. rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria te studeer en daarna die "geoktrooieerde rekenmeester-paadjie te stap".

Wiandré sê hy wil aanhou jukskei speel. "Ek sal graag eendag ons land wil verteenwoordig in die o.30-mansjukskeispan."

Hoe werk jukskei?

Jukskei word deur twee spanne van vier spelers elk met twee rubber- of houtskeie gespeel wat tussen 11 en 16 meter na 'n houtpen in 'n sandput gegooi word. Sedert die ontstaan van jukskei het dit ontwikkel tot 'n sport wat 'n hoë mate van kundigheid en vaardigheid van die speler vereis. Hoewel jukskei net in Suid-Afrika en Namibië as amptelike sport beskou word, word dit ook in Zimbabwe en Amerika gespeel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM