Vrydag se Wiskunde-vraestel was billik, meen matrikulante in die Wes-Kaap.
Raynard Mitchell van die Hoërskool Montagu sê hy het "nogal lekker geskryf".

Daar was net een moeilike vraag wat hy "nie lekker verstaan het nie".
Tyd was ook nie vir Raynard 'n probleem nie. Hy was betyds klaar en het genoeg tyd gehad om weer deur sy antwoorde te gaan.
Alicia Bester van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg het ook lekker geskryf.
"Daar was 'n paar moeilike dinge, maar dit was nie sleg nie."
Alicia sê sy was goed voorbereid op die vraestel.
Carli Perold van die Hoërskool Porterville sê sy het "beslis erger verwag".
"Daar was net so drie vragies waar ek nie regtig geweet het wat aangaan nie, maar ek kon darem probeer en iets neerskryf."




















