Dis nie die eerste keer dat Zcharnel de Kock in die media is nie, inteendeel, haar geboorte in 2004 het opslae gemaak en sy is as "Boksburg se wonderbaba" gedoop.
Zcharnel se geboorte het opslae gemaak omdat haar ma, Maureen, toe 48 jaar oud, eers op 34 weke uitgevind het dat sy swanger is met haar laatlammetjie.

"Al die dokters wat ek besoek het, het na my simptome geluister en vir my gesê ek is in menopouse," vertel Maureen.
Dokters het vir Maureen medisyne voorgeskryf om die simptome van "oorgangsjare" te verlig, maar toe sy steeds lam en tam voel het sy 'n ander dokter besoek - die dokter het vasgestel dat sy 34 weke swanger was met Zcharnel.
"Ons was heeltemal uitgeboul," sê Maureen. "Ek was dan al 'n ouma."
Twee maande later is Zcharnel, perdfris en gesond, deur 'n keisersnee gebore.
Maureen en haar man, Albert, het toe reeds tiener- en volwasse kroos uit vorige huwelike gehad.
"Ek is 'n tannie gebore," skerts Zcharnel.

Daar is 'n ouderdomsverskil van sewe en twintig jaar tussen Maureen se twee dogters. Zcharnel se susterskind was vier jaar oud toe sy "tannie" gebore is.
Zcharnel is op 18 reeds tannie van vyf wat onderskeidelik 22, 16, 15, 7 en een jaar oud is.
Toe Zcharnel graad een toe is, is daar weer in die media bespiegel dat sy waarskynlik die graad een is met die oudste ma in die land. Toe was Maureen 55.
"Gelukkig het ek nog altyd baie energie gehad. Ek het juis nou 'n eenjarige baba in pleegsorg," sê Maureen.
Zcharnel sê sy moes deur haar skoolloopbaan vir mense verduidelik dat Maureen nie haar ouma is nie, maar haar ma.
"Ek probeer altyd verduidelik dat ons familie bietjie ‘weird' is. Dis maak mense baie deurmekaar as ek moet verduidelik dat ek van my geboorte af al 'n tannie is. Dis asof hulle nie die konsep so lekker vang nie," sê Zcharnel.
"Maar dit het my nog nooit regtig gepla om anders te wees nie."
Zcharnel besef dat haar bestaan in baie opsigte wonderbaarlik is en daarom leef sy haar lewe elke dag voluit.
En nou is Zcharnel 18 jaar oud en Maureen is 65.
Boksburg se wonderbaba het met matriekvrystelling gematrikuleer en hoop om 'n sjef te word.
Sy wil wel nie wag tot in haar veertigs om ma te word nie.
"Ek hoop nie ek is so oud as ek kinders kry nie. Miskien eerder in my laat twintigs."


















