Die boulers het meestal die botoon gevoer in die afgelope naweek se reeks o.19A-skolekrieketwedstryde in die Wes-Kaap.
Reza Salie, van SACS, was met sy onoorwonne 72 lopies teen Paarl Gimnasium (150) een van die min kolwers wat die mas behoorlik kon opkom en daarmee die Nuwelanders (151/3) in staat gestel het om die Gimmies met gemak te klop.
Landbouskool Boland (179) was eweneens in 'n omgekrapte bui teen HTS Drostdy (75) terwyl slegs 108 lopies bymekaar geskraap is in die hele wedstryd tussen Stellenberg (58) en HS Tygerberg (50).
John Janse van Rensburg (DF Malan, 67) was ook een van die min kolwers wat hond haaraf kon maak en het met sy anker rol gehelp om D.F.Malan (158) naelskraap met Fairmont (136) te laat afreken.
Onder die juniors het Parel Vallei se Dirk van Zyl met uitstekende boulwerk 6/6 laat kantel in 'n o.15-wedstryd teen Hermanus.
David de Klerk (73 en 5/16) het in Somerset College se o.15-wedstryd teen HS Strand gesorg vir die beste veelsydige vertoning van die dag. - Sarel Burger





















