Doen aansoek vir Shoprite-beursprogram

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Shoprite finansier jaarliks meer as 200 studente.Foto: ISTOCK
Shoprite finansier jaarliks meer as 200 studente.Foto: ISTOCK

Die Shoprite Groep nooi alle studente wat puik presteer en wat graag by die kleinhandelbedryf wil aansluit om vir sy omvattende beursprogram aansoek te doen.

Studente wat vir graadstudies in rekeningkunde, biologiese wetenskappe, inligtingstegnologie, logistiek en voorsieningsketting, kleinhandelsakebestuur, voedselwetenskappe en landbouwetenskappe ingeskryf is, kan vanaf 1 Julie tot 30 September 2024 vir die 2025- akademiese jaar om finansiering aansoek doen.

Die omvattende beurs dek onderrig en verblyf op die kampus en bied 'n maandelikse kruidenierstoelaag sowel as toegang tot die groep se werknemerwelstandsprogram.

Indiensneming ná graduering is gewaarborg, wat aan begunstigdes 'n naatlose toetrede tot die besigheid gee en hulle kan talle loopbaanopsies ondersoek.

Sha-Abaan Slamang (25) van Malmesbury het in 2021 by die groep aangesluit nadat die kleinhandelaar sy BCom-honneursgraad van die Universiteit Stellenbosch finansier het. Sy reis het hom van logistiek na sy huidige rol van data-ontleder by ShopriteX, die groep se innovasiespil, geneem.

"Die eerste keer dat ek vir die beurs aansoek gedoen het, het ek dit nie gekry nie. Omdat ek uit 'n enkelouerhuishouding kom, het ek die finansiering nodig gehad, so ek het geweier om tou op te gooi. Toe ek uiteindelik die oproep kry, was ek in ekstase omdat ek my nagraadse studies kon voortsit.

"Ek is dankbaar dat Shoprite my hierdie geleenthede gebied het. Ek werk in 'n span wat ondersteunend is en my groei ernstig opneem," sê Sha-Abaan.

Ghea Warnich (26), 'n geoktrooieerde rekenmeester van Durbanville, is besig om haar nuwe rol as derdeparty- finansiële bestuurder te vestig net vyf maande nadat sy haar SAIGR-artikels voltooi het. Die groep het haar grade B Rekeningkunde en honneurs aan die Universiteit Stellenbosch gefinansier.

"My opleiding het my werklik gevorm om die professionele persoon te wees wat ek is. Dit is harde werk, maar dit het my meer veerkragtig gemaak, en ek is 'n beter bestuurder as gevolg daarvan. Dit is 'n vinnige bedryf wat voortdurend nuwe maniere ontdek om die kliënt se lewe te verbeter," sê Ghea.

Die groep belê sowat R15 miljoen om meer as 200 beursstudente elke finansiële jaar te finansier.

SPELETJIES VANDAG

CTA