Suid-Afrika se nasionale wiskundespan het vroeër vandeesmaand uitstekend gevaar by die 64ste Internasionale Wiskunde-olimpiade (IMO) in Japan.
Die olimpiade is van 2 tot 13 Julie aangebied waar wiskunde-slimkoppe uit hoërskole van oor die wêreld heen byeengekom het om uitgedaag te word deur 'n reeks komplekse wiskundeprobleme wat opgestel is om hul analitiese denke, probleemoplossingvermoëns en kreatiwiteit te toets.
Youkyum was 104de uit 685 deelnemers. Hy is een van slegs tien Suid-Afrikaners wat 'n silwermedalje gekry het sedert die land vir die eerste keer in 1992 deelgeneem het.
Die Suid-Afrikaanse span het as volg by die IMO presteer:
- Hugo Bruwer (gr. 12) van die Hoër Jongenskool Paarl kry eervolle vermelding;
- Jared Slater (gr. 12) van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes kry eervolle vermelding;
- Minkyum Kim (gr. 12) van Reddam House Durbanville kry 'n bronsmedalje;
- Moied Baleg (gr. 10) van die Hoërskool Settlers in Bellville kry eervolle vermelding;
- Yian Xu (gr. 10) van Redhill School in Morningside, Johannesburg, kry eervolle vermelding; en
- Youkyum Kim (gr. 10) van Reddam House Durbanville kry 'n silwermedalje.
Hierdie span, vergesel deur die spanleiers Liam Baker (wat in 2009 'n bronsmedalje in die kompetisie gekry het) en Malwande Nkonyane - albei IMO-alumni - se prestasie getuig van die talent wat plaaslike leerlinge toon as dit by wiskunde kom.

Youkyum was 104de uit 685 deelnemers. Hy is een van slegs tien Suid-Afrikaners wat 'n silwermedalje gekry het sedert die land vir die eerste keer in 1992 deelgeneem het.
Die vorige silwermedalje vir Suid-Afrika is in 2011 gewen.
- Die IMO-kompetisie vind oor twee dae plaas en duur vier en 'n half uur. Die twee vraestelle bestaan elkeen uit drie probleme.
- Leerlinge mag slegs skryf- en tekeninstrumente, soos liniale en kompasse, inneem. Geen boeke, papiere, tabelle, sakrekenaars en so meer word toegelaat nie.
- As 'n leerling nie eerste, tweede of derde plek behaal nie, word eerbare vermelding toegeken as die leerling sewe punte vir die oplossing van minstens een van die probleme gekry het.
- Vanjaar was 42 (sewe punte per probleem) die maksimum punte per deelnemer.
- Daar is vanjaar 54 goue medaljes (32 of meer punte), 90 silwermedaljes (25 of meer punte) en 170 bronsmedaljes (18 en meer punte) toegeken. 192 leerlinge het eervolle vermelding gekry.
- Suid-Afrika was 51ste uit 112 lande.





















