Die gr. 7-leerlinge van die Laerskool Gene Louw in Durbanville het die afgelope maand tydens die skool se jaarlikse entrepreneursdae die geleentheid gehad om prakties toe te pas wat hulle sover in die ekonomiese-en-bestuurswetenskappe-klas geleer het.
Die Engelse klasgroepe het op Vrydag 16 Augustus handel gedryf, en op Vrydag 23 Augustus het die Afrikaanse klasgroepe hul beurt gehad.
Spanne van twee tot vier leerders moes in die bestek van vier weke hul stalletjie beplan en bemark waar hulle op die groot dag produkte aan die res van die skool verkoop. As deel van die taak moes hulle marknavorsing doen, 'n sakeplan saamstel en hul produkte adverteer.
Pryse was op die spel vir die mees oorspronklike produk en die bes versierde stalletjie.
En dis nie sommer net winkel-winkel speel nie: Sodra die stof gaan lê en die kontant getel is, moet die leerlinge 'n inkomste-en-uitgawestaat optrek én "belasting" betaal op hul wins wanneer hulle die projek aan die einde van Augustus inhandig.
Die punt wat hulle hiervoor toegeken word, vorm deel van hul formele assessering vir die kwartaal.
"Ons entrepreneursdae gee nie alleen die kinders 'n kans om ons te wys wat hulle geleer het nie. In die proses word hulle ook blootgestel aan die uitdagings en geleenthede van die besigheidswêreld, en toegerus met lewensvaardighede," sê Johan van Zyl, gr. 7-onderwyser en eksaminator van die projek.















