HG Junior

Vir skooltake: Die storie van koffie

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir baie mense is ontbyt sonder 'n koppie boeretroos byna ondenkbaar. Dié warm drankie is wêreldwyd gewild. Maar waar kom koffie vandaan? Koffie word van die sade (koffiebone) van die koffieplant Coffea gemaak.

Koffieplante is inheems aan Afrika en kan tot 10 m hoog groei, maar hulle word gewoonlik korter gesnoei. Ons leer jou hoe koffie se storie begin het en hoe dit ook later in Suid-Afrika wortelgeskiet het.

Ryp koffie-"kersies" wat met die hand gepluk word, verseker 'n goeie gehalte koffie. In sommige plantasies word dit deur groot masjinerie en handstropers geoes. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ryp koffie-"kersies" wat met die hand gepluk word, verseker 'n goeie gehalte koffie. In sommige plantasies word dit deur groot masjinerie en handstropers geoes. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kits- en filterkoffie

Ons koop koffie in die winkel in twee vorms - poeierkoffie (kitskoffie) of koffiebone wat jy moet maal of wat reeds gemaal is (vir filterkoffie). Koffiebone wat van die bome geoes is, word behandel deur hulle eers te droog en dan te rooster.

Die gedroogde bone kan dan in 'n koffiemeul fyngemaal word. As jy die gemaalde koffie met kookwater meng, versprei die geur en donker kleur in die water. Daar is talle soorte koffieplante waarvan verskillende koffieprodukte gemaak word.

Arabica (Coffea arabica) is waarskynlik die eerste koffieplantspesie wat deur die mens aangekweek is, en danksy die lekker smaak daarvan word dit hoofsaaklik as filterkoffie gebruik. Arabica maak sowat 60% van die wêreldwye koffieproduksie uit. Die naam hou verband met Jemen in Arabië, waar koffie reeds sedert die 12de eeu verbou word.

Kitskoffie word hoofsaaklik van die spesie Robusta (Coffea canephora) gemaak, wat 'n laer suurgehalte en hoër bitterheid het. Robusta word gewoonlik met sigorei gemeng vir die eindproduk. Sigorei is ook 'n plant (Cichorium intybus) waarvan die gebrande en gemaalde wortel in koffie gebruik word.

Het jy geweet?

Brasilië, Colombia en Ethiopië is die voorste verbouers van arabica-koffie, terwyl Viëtnam, Brasilië en Indonesië die grootste robusta-koffieprodusente is.

Oorsprong in 'n legende

In 1720 het Gabriel de Clieu sy eerste koffieplant van Parys na Martinique in die Karibiese See gebring. Die skip is deur windstilte oorval en vars water het min geraak. De Clieu, wat self dors was, het sy daaglikse waterrantsoen met die laaste oorlewende plantjie gedeel. Foto: Gallo Images/Getty Images
In 1720 het Gabriel de Clieu sy eerste koffieplant van Parys na Martinique in die Karibiese See gebring. Die skip is deur windstilte oorval en vars water het min geraak. De Clieu, wat self dors was, het sy daaglikse waterrantsoen met die laaste oorlewende plantjie gedeel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ethiopië

Die storie van koffie begin in die Ethiopiese Hoogland, waar koffieplante natuurlik voorgekom het.

'n Gewilde legende (volksoorlewering) vertel van die bokherder Kaldi, wat rondom die jaar 850 koffie ontdek het nadat sy bokke die bessies van die koffieboom gevreet het. Hy het opgemerk die diere bokspring en is so vol energie dat hulle in die nag nie wil slaap nie.

Volgens oorlewering het Kaldi die bessies self geëet en energiek gevoel. Hy het 'n Moslemmonnik daarvan vertel, en dié het vir homself 'n drankie van die koffiebone gebrou om hom op-en- wakker te hou deur die lang ure van sy aandgebede.

'n Ander variasie van die legende lui dat Kaldi die monnik daarvan vertel het, maar dat hy die gebruik van die koffiebone afgekeur en dit in 'n vuur gegooi het. Maar toe die geestelike die aroma van die geroosterde bone ruik, het hy dit uit die vuur gekrap, gemaal en die wêreld se eerste koppie koffie gemaak.

Arabië

Danksy Ethiopië se handel met die Arabiese wêreld het die verbouing en verbruik van koffie nog versprei. Teen die 15de eeu is koffie in Jemen verbou en teen die 15de eeu het dit na Persië, Egipte, Sirië en Turkye versprei.

Koffie is nie net tuis gedrink nie; ook in koffiehuise. Die derduisende pelgrims wat Mekka besoek het, het kennis van dié warm drankie na baie ander lande in die Islamitiese wêreld laat versprei.

Die vrug word gedroog, dan word die buite­dop verwyder om die saad uit te bring. Ná gradering word dit uitgevoer. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die vrug word gedroog, dan word die buite­dop verwyder om die saad uit te bring. Ná gradering word dit uitgevoer. Foto: Gallo Images/Getty Images

Europa

Koffie het Europa teen die 17de eeu deur die Balkanskiereiland bereik, wat onder Turkse beheer was, asook Italië, wat intensief met die Islamitiese wêreld handel gedryf het. Koffie het gou baie gewild geraak. Koffiehuise het sentrums van sosiale interaksie geword waar sake bespreek is en kulturele aktiwiteite plaasgevind het.

Skrywers en filosowe het daar vergader om idees uit te ruil. Koffiehuise het oral in lande soos Engeland, Oostenryk, Duitsland en Nederland tot stand gekom. In die middel van die 1600's het die Nederlanders ook koffie begin uitvoer na Nieu-Amsterdam, die stad in hul Amerikaanse kolonie wat later as New York bekend sou staan.

'n Nederlandse maatskappy, die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), was die eerste grootskaalse invoerder van koffie vanaf sy plantasies in Indonesië.

Die Amerikas

Die Franse vlootoffisier Gabriel de Clieu het 'n koffieplant in 1723 na die Franse kolonie Martinique in die Karibiese See geneem. Die kosbare plantjie het die seereis oorleef en op die eiland gedy. Dié arabicaplantjie het die voorouer geword van byna alle koffiebome in die Karibiese Eilande, asook Sentraal- en Suid-Amerika!

Brasilië is die afgelope 150 jaar die wêreld se grootste koffieprodusent. Dié land lewer sowat 'n derde van alle koffie in die wêreldmark. Hy het sy koffiebedryf te danke aan sers.maj. Francisco de Melo Palheta, wat in 1727 deur die Portugese heerser na die naburige kolonie van Frans-Guinee gestuur is om 'n grensgeskil op te los en om koffieplante te kry.

Die Franse was onwillig om hul koffie te deel, maar die Franse goewerneur se vrou het glo voor die aantreklike Brasiliaan se sjarme geswig. Sy het blykbaar voor sy vertrek aan hom 'n ruiker oorhandig.

Tussen die blomme en blare in die ruiker was genoeg koffiebone om Brasilië se koffiebedryf te begin. Koffie het na verskeie ander lande versprei. Baie mense het met koffie 'n fortuin gemaak of selfs verloor. Teen die einde van die 18de eeu was koffie een van die wêreld se winsgewendste landbouprodukte.

Vandag is koffie, naas tee, die wêreld se tweede gewildste drankie en 'n gewilde handelskommoditeit.

Die finale fase in die koffiemaakproses is die rooster van die bone. Dié werker plaas geroosterde bone in 'n afkoelbak. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die finale fase in die koffiemaakproses is die rooster van die bone. Dié werker plaas geroosterde bone in 'n afkoelbak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Suid-Afrika

Koffie is waarskynlik die eerste keer in die 1880's in Suid-Afrika verbou. Dit was by 'n sendingstasie in KwaZulu-Natal. Hoewel koffie in byna enige rypvrye gebied met goed gedreineerde grond sal groei, is Suid-Afrika se beste koffieverbouingsgebiede in die suide van die KwaZulu-Natalse kusstreek, die Drakensberg-platorand van Mpumalanga en Limpopo.

Nietemin voer Suid-Afrika byna al die koffie wat ons verbruik van oorsee af in. Ons land produseer nie juis meer as 100 ton koffie per jaar nie. Dit is nie eens 'n halwe persent van al die koffie wat Suid-Afrikaners drink nie.

Die rede hoekom Suid-Afrika so min koffie verbou, is dat koffieboerdery arbeidsintensief is. Die koffieboom dra terselfdertyd blomme en groen en ryp koffiebone. Dit moet dus met die hand gepluk word; daarom is koffiebone duur om te oes. Daar is wel 'n klompie boere in ons land wat met koffie sukses behaal.

Sigoreiwortels (Cichorium intybus var. sativum) word gebak, gerooster en gemaal en as koffieplaasvervanger gebruik. Foto: Gallo Images/Getty Images
Sigoreiwortels (Cichorium intybus var. sativum) word gebak, gerooster en gemaal en as koffieplaasvervanger gebruik. Foto: Gallo Images/Getty Images

Teks: Cum Laude Media; Bronne: agribook.co.za, ncausa.org, kiddle.co, casabrasilcoffees.com, wikipedia.org

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.

Cum Laude Media

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM