HG Junior

Vir skooltake: Verskillende Nuwejaar-tradisies

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Duisende jare lank vier verskillende beskawings al die begin van hul nuwe jaar. In ons tyd begin die meeste Nuwejaarspartytjies op 31 Desember, oftewel Oujaarsaand, en dit hou aan tot die vroeë oggendure van 1 Januarie - Nuwejaarsdag.

Die meeste tradisies sluit partytjies, spesiale kos en soms vuurwerke in. Mense maak ook Nuwejaarsvoornemens. Ons leer jou waar die idee van 'n nuwe jaar vandaan kom en watter spesiale tradisies verskillende lande in die wêreld het om Nuwejaarsdag te vier.

Toentertyd

Die vroegste viering van die koms van die nuwe jaar waarvan ons in die annale van die geskiedenis bewus is, dateer uit sowat 4 000 jaar gelede uit die tyd van die antieke Babiloniërs in wat vandag Irak is.

Vir hulle het die nuwe jaar begin met die eerste nuwe maan ná die lentenagewening - in die Noordelike Halfrond is dit die dag in Maart wanneer die dag en nag ewe lank is. Vir hulle het dit die 11 dae lange gods- diensfees Akitu ingelui.

Ons kalender

Ons het ons Westerse kalender van die Romeine oorgeërf. Sowat 2 000 jaar gelede het die ou Romeinse kalender, wat te min dae gehad het, ver agter die son geraak.

Ten einde die kalender weer in pas met die son te kry, het keiser Julius Caesar in 46 v.C. besluit om die beste sterrekundiges en wiskundiges te gebruik om dié probleem op te los.

Die tweegesiggod Janus. Foto: Wikipedia/Janus
Die tweegesiggod Janus. Foto: Wikipedia/Janus

Hy het toe die Juliaanse kalender ingestel wat baie na aan die Gregoriaanse kalender is wat ons vandag nog gebruik. Die meeste lande in die wêreld gebruik die bygewerkte Gregoriaanse kalender wat genoem is na pous Gregorius XIII, wat dit reeds in Oktober 1582 ingestel het.

Die Romeinse kalender was so ver agter dat Caesar in die jaar 46 v.C. altesaam 90 ekstra dae moes byvoeg om sake in orde te kry.

Caesar het bepaal 1 Januarie sal die eerste dag van die jaar wees. Dit was ter ere van Janus, die Romeinse god van onder meer tyd, beginne en eindes en oorgange. Janus het twee gesigte gehad - hy kon dus terug na die verlede en vorentoe na die toekoms kyk.

Die Romeine het die Nuwejaarsfees gevier deur hul huise met louriertakke te versier, vir mekaar geskenke te gee en wilde partytjies te hou.

In New York se Times Square kyk groot groepe mense om middernag hoe die reusebal val. Foto: Wikipedia/Janus
In New York se Times Square kyk groot groepe mense om middernag hoe die reusebal val. Foto: Wikipedia/Janus

Laat waai met lawaai

In byna alle lande wêreldwyd gaan die Nuwejaarsvierings gepaard met 'n groot geraas. Mense skiet vuurwerke en klappers, en kerkklokke word gelui.

'n Man met 'n sjofar in Jerusalem. Dié ramshoring word met die Joodse Nuwejaar geblaas om Jode tot besinning te bring. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
'n Man met 'n sjofar in Jerusalem. Dié ramshoring word met die Joodse Nuwejaar geblaas om Jode tot besinning te bring. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Vir Roosj Hasjana (die Joodse Nuwejaar wat gewoonlik in September-Oktober val) word die sjofar (ramshoring) geblaas as 'n wekroep sodat mense hul verkeerde dade kan laat staan.

Leeudansers dans rondom klappers om die Chinese Nuwejaar in te lui. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Leeudansers dans rondom klappers om die Chinese Nuwejaar in te lui. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Geraasmakery en vuurwerke op Oujaarsaand het waarskynlik hul oorsprong in antieke tye toe mense geglo het geraas en vuur verjaag bose geeste en bring geluk. Die Chinese het vuurwerke uitgevind en gebruik dit tot vandag toe in skouspelagtige Nuwejaarsdagvierings.

Die ikoniesste Nuwejaarstradisie in Amerika is die reusebal wat in New York se Times Square klokslag om middernag laat val word. Miljoene mense wêreldwyd kyk hierna.

Vuurwerke verlig die naghemel op Nuwejaarsdag in die Sydney-hawe in Australië. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Vuurwerke verlig die naghemel op Nuwejaarsdag in die Sydney-hawe in Australië. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Die mense in China skiet ook klappers, terwyl mense in die ou dae in Thailand geweerskote afgevuur het om demone af te skrik.

Die Italianers laat hul kerkklokke vir die vale lui, die Switsers slaan op tromme, en in Noord-Amerika sal jy veral sirenes en partytjietoeters hoor.

Ons in Suid-Afrika het natuurlik die vuvuzela om die ou jaar luidrugtig mee te groet.

Op baie plekke lui klokke die nuwe jaar in. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Op baie plekke lui klokke die nuwe jaar in. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Kos wat geluk bring

Baie Nuwejaarstradisies behels eetgoed. In Spanje is dit die gewoonte om op Oujaarsaand om middernag 12 druiwekorrels te eet. Mense probeer dit gewoonlik afsluk met elke lui van die klok. Hierdie tradisie word nagevolg in die hoop dat jy so vir jouself 12 gelukkige maande in die nuwe jaar sal verseker.

Op Nuwejaarsdag eet die mense in die suide­like state van Amerika swartbekboontjies. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Op Nuwejaarsdag eet die mense in die suide­like state van Amerika swartbekboontjies. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

In baie dele van Amerika is dit 'n tradisie om op Nuwejaarsdag swartbekboontjies vir geluk te eet. In kulture waar die vark 'n simbool van voorspoed en vooruitgang is, sal varkgeregte op die Nuwejaarstafel verskyn.

Dit sluit lande in soos Kuba, Oostenryk, Hongarye en Portugal. In sekere lande is dit 'n tradisie om ringvormige koeke en pasteie te eet omdat die ronde vorm van die kos daarop dui dat die jaar 'n kringloop voltooi het.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

In Nederland word oliebolle geëet. Mexiko en Griekeland is van die lande wat dieselfde tradisie volg.

In Swede en Noorweë word 'n ryspoeding op Oujaarsaand voorgesit waarin 'n amandel versteek is. Die mens wat die neut kry, kan glo 12 maande van voorspoed verwag.

Die Suid-Amerikaners en Spanjaarde eet om middernag 12 druiwekorrels. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Die Suid-Amerikaners en Spanjaarde eet om middernag 12 druiwekorrels. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

In Indië en Pakistan word rys ook met voorspoed vereenselwig.

Met die Joodse Nuwejaar (Roosj Hasjana) word verskeie kossoorte met 'n dieper betekenis voorgesit. Een daarvan is appels wat in heuning gedoop is. Dit stel 'n soet nuwe jaar voor.

Slaan 'n nuwe blaadjie om

Baie mense besin oor hul lewe en maak planne om dinge in die nuwe jaar beter te doen. Die gebruik om voornemens te maak kan na die Babiloniërs teruggevoer word.

Nuwejaarsdag is 'n belangrike vakansiedag in Japan. Dis 'n simbool van vernuwing. Baie mense hou 'n bonenkai (vergeet-die-jaar-partytjie) om van probleme afskeid te neem en voor te berei op 'n nuwe begin.

Misverstande en wrokke word vergewe en huise word geskrop. Om middernag op Oujaarsaand slaan Boeddhistiese tempels hul ghongs 108 keer om 108 soorte menslike swakhede uit te werp. Nuwejaarsdag is dan 'n vrolike dag en kinders kry klein geskenkies.

Boeddhistiese monnike in 'n tradisionele Tibettaanse Nuwejaarseremonie. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Boeddhistiese monnike in 'n tradisionele Tibettaanse Nuwejaarseremonie. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Moslems vier die Islamitiese Nuwejaar volgende jaar op 9 of 10 Augustus, afhangend van die sigbaarheid van die maan en sterrekundige berekenings. Volgens die Islamitiese kalender breek die jaar 1443 dan aan.

Die meeste Moslems vier die vakansiedag deur gebedsessies in die moskee of deur tyd saam met familie deur te bring. Die klem val vir Moslems op besinning, herinnering en dankbaarheid.

Dink tog aan diere! Onthou, navorsing het bewys die gebruik van vuurwerke naby diere is uiters nadelig vir hulle. Die geraas van vuurwerke en klappers is te veel vir die fyn gehoor van diere soos honde. Dit maak diere dikwels so bang en verward dat hulle probeer vlug. Vuurwerke is beslis nie dierevriendelik nie. Hou hulle veilig binne jou huis as daar vuurwerke naby is. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Teks: Cum Laude Media; Bronne: theweek.co.uk, cnn.com, history.com, almanac.com, infoplease.com, wikipedia.org; Foto's: GALLO IMAGES/ALAMY, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, WIKIPEDIA

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en hier aflaai.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM