Die Hoërskool D.F. Malan, in Bellville, het verlede maand hul 70ste bestaansjaar gevier.
Die personeel, leerlinge, oudpersoneel en alumni het die vieringe meegemaak.
Die skool is op 20 Januarie 1954 gestig.
Die leerlinge het vanaf die Bellville-polisiekantoor, waar die ou perseel van die skool was, tot by die skool in Langenhovenstraat gestap.
Die eregaste wat die opmars bygewoon het, is oudleerlinge spesifiek van die klasse van 1958, 1959 en 1960, Dié oudleerlinge het die ou skool by die Bellville-polisiekantoor ervaar. Baie van hulle was daar op laerskool ook.
Die eerste matriekklas was in 1958 .
Pieter Combrinck, klas van 1958, het die fakkel oor Voortrekkerweg gedra om dit seremonieel aan die hoofleiers van 2024, Dirk Hagen en Emma Geringer, te oorhandig .
Die vieringe is met 'n glansgeleentheid by Eensgezind afgesluit.
Gert Visser, voormalige adjunkhoof, was die seremoniemeester en die skoolhoof, Sias Conradie, het die gaste toegespreek oor wat D.F. Malan die afgelope 70 jaar vermag het.
Die sangeres Margot Rothman (klas van 2018) en die kitaarspeler Juvan Coetzee (klas van 2018) het die gaste vermaak en trakteer.















