'n Rekordgetal bergfietsry-entoesiaste het verlede maand die roetes rondom Grabouw aangepak vir vanjaar se uitgawe van die Weekend Warrior: Grabouw, grown by Tru-Cape MTB-geleentheid. Dit is 'n geldinsameling-inisiatief vir die Hoërskool Grabouw.
"Dit was ons beste een nog, en beslis die grootste in getalle," sê Shaun Glover van Red Cherry Events, wat die prettige gesinsvriendelike wedren gereël het.
R50 000 is vir die plaaslike hoërskool ingesamel.
"Die geleentheid het baie toekomstige sterre gelok. Vir baie kinders was dit hul eerste voorsmakie van 'n bergfietswedren, wat dit 'n wonderlike geleentheid maak om meer mense in die toekoms by bergfietsry betrokke te kry."
Tru-Cape is die afgelope drie dekades by bergfietswedrenne in die Grabouw-omgewing betrokke.
Conrad Fick, bemarkingsdirekteur by Tru-Cape Fruit Marketing, skryf die geleentheid se sukses toe aan die feit dat dit toeganklik is vir oud en jonk.
"Dit is bekostigbaar om in te skryf, en die hele gesin kan deelneem. Dit is ook 'n prettige manier om kinders bloot te stel aan so 'n wedren." Die Weekend Warrior-geleentheid is daarop gemik om 'n waarde-vir-jou-geld bergfietswedren vir almal te bied, terwyl 'n liefde vir sport en die buitelewe gekweek word.
"Die tweedaagse byeenkoms het oor die laaste paar jaar van krag tot krag gegaan, met die getal deelnemers wat gegroei het van ongeveer 280 ryers in die aanvanklike wedren tot 460 ryers wat vanjaar die bane aangepak het," sê Glover.
Hy sê die groei was suiwer organies danksy die positiewe ervarings wat ryers in die verlede gehad het.
Die roete het ryers deur Oak Valley se wingerde, Tru-Cape se appelboorde en om die Eikenhofdam geneem.
"Die byeenkoms is ideaal vir beginner- tot intermediêre ryers van alle vaardigheidsvlakke wat aan hul eerste skofwedren wil deelneem. Hoewel die afstande redelik kort is in vergelyking met ander byeenkomste, is dit steeds 'n bergfietswedren, so die roete bly altyd 'n uitdaging en daar is een of twee klimme wat glad nie maklik is nie," sê hy.
Vir Tru-Cape is dit 'n unieke geleentheid om die rol wat vrugte in 'n gesonde leefstyl speel ten toon te stel.
"Daar is geen beter manier om energie te kry as om in 'n vars, sappige appel of peer te byt nie," sê Fick.
Tru-Cape het R50 000 aan die Hoërskool Grabouw geskenk as deel van vanjaar se geleentheid.
"Two-A-Day, ons pakhuis in Grabouw, is een van die grootste werkverskaffers in die omgewing. Die Weekend Warrior MTB-wedren is ons manier om die gemeenskap te help en skoolkinders in die vallei te ondersteun. Dit is ook wonderlik vir Grabouw-toerisme, aangesien hierdie gebeurtenis honderde besoekers na die gebied lok."
Die Hoërskool Grabouw speel 'n aktiewe rol gedurende die naweek, met personeel wat waterstasies beman of as beamptes optree.
"Dit was 'n ongelooflike geleentheid en ek moet Tru-Cape bedank omdat hy op voetsoolvlak betrokke geraak het om die sport van bergfietsry te ondersteun. Dit is my droom om meer kinders, van alle agtergronde, aan die sport te sien deelneem," sê Ralston Parnell, skoolhoof van die Hoërskool Grabouw.
Hy was verheug om soveel oudleerlinge van die Hoërskool Grabouw onder die deelnemers te sien.
"Volgende jaar skryf ons 'n span van die skool in waarvan ek deel sal wees," het hy opgewonde gesê.
Die skenking aan die skool word "met ope arms verwelkom", sê Parnell.
"Baie uitdagings en begrotingsbesnoeiings staar ons in die gesig. 'n Deel van die geld sal gebruik word om die skool se swembad te herstel sodat ons swem weer kan instel as 'n skoolsport."
Terwyl Tru-Cape nie by ander Weekend Warrior-byeenkomste oor die land heen betrokke is nie, skenk hulle appels om atlete by hierdie byeenkomste te ondersteun.





















