Onderwaterhokkie is meer as net nog 'n sport vir Lienke Heath.
Dit gee haar kans om ná 'n stresvolle dag te ontspan, en daarby is die kameraderie van haar spanmaats vir haar kosbaar, sê Lienke, 'n matriekleerling van die Hugenote Hoërskool op Wellington.
Sy is onlangs opgeneem in die Suid-Afrikaanse o. 19-vrouespan.
Dit is die eerste keer dat sy junior Protea-kleure ontvang, en ook die eerste keer dat sy oorsee sal speel.
Lienke se span is een van vier Suid-Afrikaanse spanne wat in Julie na Kuala Lumpur, die hoofstad van Maleisië, sal reis om in verskillende ouderdomsgroepe aan die sesde onderwaterhokkie-wêreldkampioenskap deel te neem.
Lienke verteenwoordig die Boland reeds sedert 2019 op die jaarlikse Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms.
In 2019 is sy aangewys as een van die sport se ambassadeurs, en in 2021 is sy beloon as die beste o. 15-speler van die toernooi.
Die oomblik toe ek in die water klim en my eerste wedstryd speel, het ek geweet dis my sport. Wanneer ek speel, voel dit asof ek 'n energie-skop kry. Ek's altyd gelukkig in die water.
Sy speel sedert 2017, toe sy in gr. 5 was, onderwaterhokkie.
Sy het aanvanklik in die Paarl geoefen, maar is deesdae deel van die Maties Underwater Club (MUC) in Stellenbosch.
"Die oomblik toe ek in die water klim en my eerste wedstryd speel, het ek geweet dis my sport. Wanneer ek speel, voel dit asof ek 'n energie-skop kry. Ek's altyd gelukkig in die water."
Sy het net lof vir haar afrigter, Jack van Blerk, en die wyse waarop hy van meet af aan haar liefde vir die sport ontwikkel het.
"My spanmaats maak onderwaterhokkie selfs nog lekkerder. Ons almal ondersteun mekaar emosioneel en fisiek, want soms kan dit nogal rof raak."
Dié waternimf is 'n kosbare lid van die Hugenote Hoërskool se swemspan. Sy speel ook netbal vir die skool. Daarbenewens is Lienke ook 'n gekwalifiseerde lewensredder en het einde verlede jaar diens by Ganzekraal en Yzerfontein gedoen.
Die Suid-Afrikaanse Onderwaterhokkie Federasie (SAUWHF) ontvang geen finansiële ondersteuning van die staat nie. Daarom moet spelers wat die wêreldkampioenskap wil bywoon hul eie geld, waar moontlik, insamel.
Belangstellendes wat Lienke hierin wil ondersteun, kan haar ma, Ilse Heath, by 081 271 0276 bel of 'n e-pos stuur na kvheath@hotmail.com.
'n Back-a-Buddy-veldtog is ook van stapel gestuur. Vir meer besonderhede, stuur 'n e-pos na Linda Stephen, SAUWHF-president by sp@sauwhf.co.za.





















