’n Omvattende gids vir SA ouers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: getty images
Foto: getty images

Tuisonderrig as 'n opvoedkundige opsie raak toenemend gewild in Suid-Afrika. Dit kan onder meer daaraan toegeskryf word dat dit aan ouers meer beweeglikheid bied, asook dat daar beter voorsien kan word in die individuele behoeftes van 'n leerling, en omdat daar 'n tekort aan ruimte by goeie skole in sekere gebiede is.

Die vooruitsig van tuisonderrig kan opwindend wees en bied baie opsies vir gesinne, maar dit verg ook deeglike voorbereiding en begrip voordat hierdie benadering gevolg behoort te word, veral in die regslandskap.

Colin Northmore, hoof van Evolve Online School, sê daar is vier kernkwessies wat ouers in ag moet neem wanneer tuisonderrig as 'n opsie oorweeg word.

1. Die wetlike raamwerk

"Begrip en nakoming van die wetlike raamwerk wat deur die Suid-Afrikaanse Skolewet gestel word, is van kardinale belang. Ouers moet deur die provinsiale onderwysdepartement aansoek doen om toestemming vir tuisonderrig," se Northmore.

"Die proses sluit in 'n kennisgewing, registrasie en die aanbieding van 'n gedetailleerde leerplan wat aan nasionale onderwysstandaarde voldoen.

Die nakoming van die wette legiti­meer tuisonderrig en stel 'n gestruktureerde grondslag daar vir jou kind se opvoeding.

"Die kwessies kan skrikwekkend wees, maar word maklik opgelos as jy 'n kurrikulum kies waar jou verskaffer die leerplan aan jou gee.

" 'n Goeie aanlyn skool sal ouers­ kan bystaan en kundige ondersteuning in hierdie verband bied."

2. Kies 'n kurrikulum en op­voeding wat jou kind pas

Die keuse van die korrekte kur­rikulum is 'n deurslaggewende stap. Suid-Afrika bied 'n reeks plaaslike en internasionale kurrikulums, elk met 'n unieke onderwysbenadering.

"Dit is waarskynlik die belangrikste stap, want dit definieer die perke en geleenthede vir jou kind. Ouers moet hul kind se leerstyle, belangstellings en toekomstige opvoedkundige doel­witte in ag neem wanneer hulle 'n kurrikulum kies.

"Die integrasie van tegnologie en verskeie opvoedkundige hulpbronne kan die leerervaring verbeter," sê Northmore.

Ouers wat in Suid-Afrika met tuisonderrig begin, kan dalk sukkel om die verskille tussen die aanbiedinge te verstaan. Skole verskil in hoe hulle die kurrikulum lewer, van om net die materiaal per pos aan jou te stuur tot om voltydse virtuele onderrig aan te bied. Sommige voorsien gekwalifiseerde onderwysers en plaas kinders in klein klasse, terwyl ander 'n lesingstylmodel volg met honderde kinders in die regstreekse sessie.

Hier is 'n paar vrae wat jy kan vra om verskillende aanbiedinge te vergelyk:

• Watter eksamen sal my kind aan die einde van matriek skryf? Is die verskaffer by 'n erkende eksamenliggaam geregistreer, en moes hulle 'n gehalteversekeringsproses ondergaan om daardie erkenning te verkry?

• Sal gekwalifiseerde onder­wy­sers my kind se leer bestuur? Is daar regstreekse klasse, en hoeveel studente is in dié klasse?

• Hoe werk assessering?

• Gebruik die verskaffer 'n innoverende benadering tot onderrig en leer? Sal die kurrikulum 'n toekomsgerigte opvoeding vir my kind bied en kan die verskaffer sy benadering verduidelik?

• Watter tegnologie sal ek moet koop en hoe integreer die verskaffer opvoedkundige tegnologie en toepassings in die leer?

• Hoe betrokke sal ek as ouer moet wees?

• Sal my kind in staat wees om met sy maats te kommunikeer, en maak die verskaffer enige voorsiening vir sosiale ontwik­keling?

• Wat as my kind 'n fisieke uitdaging het of neurodivers is? Kan die verskaffer vir my kind se spesifie­ke behoeftes voorsiening maak?

3. Die skep van 'n effek­tiewe leeromgewing

Om 'n deel van jou huis in 'n toegewyde leerruimte te omskep is meer as net 'n fisieke verandering; dit gaan daaroor om 'n omgewing te skep wat bydra tot leer en groei.

" 'n Konsekwente roetine wat akademiese, fisieke en kreatiewe aktiwiteite balanseer, is noodsaaklik. Tuisonderrig bied die buigsaamheid om hierdie omgewing en skedule aan te pas om beter by jou kind se behoeftes te pas - 'n aansienlike voordeel bo tradisionele skoolmetodes," sê Northmore.

4. Gemeenskaps-betrokkenheid en -ondersteuning

Tuisonderrig is nie 'n reis wat in isolasie aangepak moet word nie. Om by die tuisonderrig-gemeenskap aan te sluit bied ondersteuning en geleenthede vir die deel van hulpbronne.

Hierdie verbindings kan die tuisonderrig-ervaring aansienlik verbeter ten opsigte van skakeling met ander tuisonderrig-gesinne tot die verkryging van profes­sionele opvoedkundige advies.

Daarbenewens kan die inskrywing van kinders by buitemuurse aktiwiteite verseker dat hulle hul sosiale vaardighede ontwikkel en verskeie belangstellings buite die akademiese kurrikulum verken.

"Om met tuisonderrig te begin, is 'n besluit wat noukeurige beplanning en 'n verbintenis tot die verskaffing van 'n volledige opvoedkundige ervaring vereis," sê Northmore.

"Deur wetlike vereistes te verstaan, die regte kurrikulum te kies, 'n koesterende leeromgewing te skep en met die breër tuisonderrig-gemeenskap te skakel, kan ouers 'n suksesvolle en verrykende opvoedkundige reis vir hul kinders verseker.

"Die essensie van tuisonderrig lê in die aanpasbaarheid daarvan vir elke kind se unieke behoeftes en aspirasies, en die soort onderrig se vermoë om persoonlike opvoeding aan te bied.

SPELETJIES VANDAG

CTA