SACS se o.19A-rugbyspan, wat in 2019 laas met Wynberg Boys' High kon afreken, het Saterdag verras deur Wynberg op dié se tuisveld naelskraap 30-29 te klop.
Danksy SACS se beter stelskopwerk het die besoekers dwarsdeur die wedstryd vasgeklou aan 'n geringe voorsprong om Wynberg koud te sit.
Bishops, wat hierdie seisoen nog nie heeltemal op al sy silinders kon vlamvat nie, het in sy derby-stryd teen Rondebosch Boys' High die besoekers aanvanklik goed skrikgemaak. In 'n wedstryd wat skitterspel gelewer het, het Rondebosch geleidelik die hef in die hand gekry. Deur middel van 'n rits drieë het hulle die kragmeting in sy guns laat swaai vir ‘n oorwinning van 31-16.
Verskeie ander geskeduleerde wedstryde is afgelas weens eksamens.
Durbies voel ongelukkig
Die Hoërskool Durbanville se rugbyspelers het met reg rede om omgekrap te voel nadat hulle nie ‘n enkele tuiswedstryd gedurende die eerste nege Saterdae van die huidige seisoen gehad het nie.
Met die sewe wedstryde wat hierdie kwartaal vir die Durbies geskeduleer was, sou hulle wel twee keer voor hul tuisskare kon uitdraf - maar in albei gevalle het hul teenstanders (sonder aanvaarbare redes) die wedstryde gekanselleer.
Terwyl skole sekerlik geregtig is om in 'n gebalanseerde program min of meer ewe veel tuis as wegwedstryde te speel, sal Durbanville aanstaande kwartaal ook net twee van hul vyf kragmetings aan die tuisfront speel.
HS Tygerberg is nog een van verskeie skole wat met rede kan mor oor hierdie seisoen se wedstrydprogram.
Die Tiere sal net 'n skamele vier keer in 14 wedstryddae op hul tuisveld in aksie wees.
Die uitvoerende bestuur van die WP-skoleunie het jare gelede al bepaal dat spanne op 'n gereelde basis so ver moontlik om die beurt tuis- en weg-wedstrydverpligtinge sal hê.
Cravenweek Bolandspan bekend
Die Boland se rugbykeurders het 'n goed gebalanseerde o.18-span saamgestel vir die Cravenweek wat later hierdie maand in Krugersdorp plaasvind.
Die span is: Havarts Ocks (Port), Lohenzel Jansen (Wo. Gim), LJ Schippers (Drost), Phillip du Plessis (Ch Hofm), Benedict George (Dist), Luaan Giliomee (Ch Hofm), Llewellyn Fransman (Port), MJ van der Westhuizen (Drost), Keanu Plaatjies (Port), Boeta Schreuder (Hopef), Chris O'Neill (Wo Gim), Marcus Lee (Drost), Petrus Coetzee (Rob'son), Armand Croeser (Wo Gim), Christiaan Kershoff (Labori); Kallie Boutsikaris (Swartl), Amaan Adendorf (Wo Gim), RW Duggan (Drost), Brett Arendse (Hugen), Callan Ruiters (Hugen), Shaan-Jay Lukas (Esselen), Geraldo Davids (Langeberg), Leo de Wet (Labori). Bestuurder: Francen September. Afrigters: John Booysen, Isak Hanse en Martin Dyason. )Die gekose spanne van die WP, Boland en SWD vir die o.18-Akademieweek, die o.16-Grant Khomo-toernooi en die o.13-Cravenweek sal volgende week in Jip verskyn. - Sarel Burger


















