Rondebosch Boys' High se o. 19A-rugbyspan moes Saterdag behoorlik walgooi om 'n verbete aanslag van SACS af te weer, maar het darem wel deurgeskraap met 'n oorwinning van 23-20.
Rondebosch was sedert 2016 nog deurentyd aan die wenkant teen SACS.
Ook Bishops, wat geen suksesvolle seisoen beleef nie, het Saterdag byna verras teen Wynberg Boys' High. Nadat Wynberg aanvanklik 'n stewige voorsprong opgebou het, het Bishops kwaai teruggeveg en kon danksy twee drieë kort voor die einde 'n gelykopuitslag van 26-26 beklink.
Nadat Durbanville in sy interskolestryd teen Stellenberg aanvanklik deeglik stem dik gemaak het, het die Stellies in 'n blitzkrieg van drie vinnig opeenvolgende drieë vroeg in die tweede helfte die weg gebaan vir 'n oorwinning van 21-14.
In Brackenfell se betreklik gelykop interskolestryd teen die Hoërskool Tygerberg het die Brakke beter munt geslaan uit hul aanvalle. Met sy oorwinning van 18-9 het die Hoërskool Brackenfell sy heerskappy van die afgelope paar jare voortgesit. Ook die Hoërskool Bellville het sy houvas op die Hoërskool D.F. Malan behou deur die besoekers 15-3 te klop. Hier onder volg al die uitslae van die afgelope naweek se skolesport wat teen druktyd beskikbaar was.










