Die eindeksamen is om die draai en dis nie ongewoon dat 'n gevoel van angstigheid kan insluip nie.
Dis nie net die leerlinge wat onder druk is nie. Eksamentyd kan ook stresvol wees vir gesinne en die hele skoolgemeenskap. Ouers en onderwysers wil die regte ondersteuning bied, maar dis nie altyd duidelik wat dit presies behels nie.
Esmarel Potgieter, die hoof van akademie by Koa Academy, 'n Afrikaanse aanlyn skool wat onlangs bekend gestel is, sê in hul matriekjaar ervaar baie leerlinge en ouers dikwels groot druk omdat hulle glo dat jongmense se toekoms van hul uitslae afhanklik is.
Ouers behoort hul kinders in eksamentyd met empatie te benader.
"Matriekuitslae word gesien as 'n belangrike maatstaf van 'n skool se akademiese standaard, wat die skool se reputasie en prestasies beïnvloed. In die algemeen wil almal dus uitstekende prestasies sien.
"Dit is belangrik om hierdie hoë verwagtinge van die begin af te erken en dit behoorlik in perspektief te plaas. 'n Sekere mate van stres en druk is nuttig om prestasie aan te moedig, maar as dit te veel word, raak dit onmoontlik vir die leerlinge, om hul bes te doen.
"Dit gaan oor die bestuur van 'n tydperk met groot druk, waar baie op die spel is, en om 'n balans tussen prestasie en welstand te vind."
Ouers behoort hul kinders in eksamentyd met empatie te benader. "Dit help as ouers in die eksamentyd oor hul rol en betrokkenheid nadink. Dit gaan oor ondersteuning en aanspreeklikheid. Pleks om jou rol as ouer te beskou as 'n aandrywer van prestasie of om heeltemal onbetrokke te wees, is dit beter om jou kind te ondersteun.
"Dit beteken om belangstelling te toon en jou kind op 'n gepaste manier aanspreeklik te hou sonder om oor te neem.
"Jou kind moet self die verantwoordelikheid vir sy of haar studieskedule en doelwitstelling aanvaar. Gereelde kontrole toon jou belangstelling in hul vordering en struikelblokke. Dit is ondersteunend en motiverend," sê Potgieter.
In eksamens speel ouers 'n sleutelrol deur te help om 'n geskikte en ondersteunende studieomgewing vir hul kinders te skep.
In eksamens speel ouers 'n sleutelrol deur te help om 'n geskikte en ondersteunende studieomgewing vir hul kinders te skep. "Dit gaan nie net om studie nie. Om sy beste prestasie te lewer, moet jou kind gemaklik wees in sy studieomgewing, voldoende slaap kry, gesond eet, daagliks oefen, sosiaal verkeer en blaaskanse neem om asem te skep. Ouers kan help deur op hul kind se welstand te konsentreer en gesonde gewoontes aan te moedig."
Potgieter se raad aan leerlinge is om perspektief te behou in die eindeksamen.
"Eksamens is nie 'n skielike ontwrigting van jou skooljaar nie. Dit is net 'n deel van die leersiklus. Alles wat jy deur die jaar doen, fokus op jou eksamenprestasie. Konsekwente aandag aan klaswerk, kursusse en projekte is alles deel van die voorbereiding vir die eksamens. Konsekwentheid lei tot sukses.
"Dit is dus belangrik om nie eksamentyd as 'n eenmalige verrassing of selfs 'n alleenstaande gebeurtenis te beskou nie.
"Eksamens is 'n belangrike deel van jou onderrig en jou inspanning op lang termyn lewer die beste resultate.
"Onthou egter, jý is belangriker as enige punt," sê Potgieter.

















