MySkool

Parel Vallei skep sy grootste nóg

Wegwêreld is die Hoërskool Parel Vallei se grootste toneelproduksie tot op hede.
Wegwêreld is die Hoërskool Parel Vallei se grootste toneelproduksie tot op hede. (SYSTEM)

Die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes, wat die ATKV-tienertoneelkampioen van 2021 en 2022 is, pak vanjaar die grootste produksie nóg aan met hulle nuwe tienertoneelstuk.

" 'n Soeke na die lig op die horison," is hoe die bekroonde regisseur en skrywer Darryl Spijkers die skool se nuutste tienertoneelproduksie, Wegwêreld, beskryf.

"Ek het by die belofte van lig begin en van daar het hierdie hoopvolle pelgrimstog ontvou."

Al die slegte dinge wat ons gedink het met die planeet kan gebeur, het 'n werklikheid geword. Die wêreld wat ons geken het, is weg.

Met 'n kragtige ensemble en tegniese span van altesaam 45 Parel Valleiers, neem hulle vanjaar hul gehoor op 'n wonderlike visuele reis na 'n weggesteekte wêreld waar eensame mense saam alleen is en stilte kliphard raas.

"Al die slegte dinge wat ons gedink het met die planeet kan gebeur, het 'n werklikheid geword. Die wêreld wat ons geken het, is weg. 'n Klein gemeenskap het agtergebly en bewaar hulself van wat buite die stad se mure skuil. Die broosheid van die mensdom skree egter harder as die luidrugtige oordadigheid van hulle droomland en ons sien hoe hierdie vreemde groen kolonie klokslag elke Maandag melktert bak en woorde by die mark ruil op die ritme van 80's-musiek as 'n vorm van behoud en beskerming."

Die grootheid van die stel saam met die indrukwekkende kostuums, tegniese elemente en handpoppe, asook die gebruik van musiek en dans, gekombineer met fyn, afgeronde vertolkings deur 'n sterk groep spelers, bied 'n soort ontvlugting wat die gehoor op briljante wyse konfronteer.

"Ware lig en donker word eintlik so duidelik in 'n wêreld waar mense glo sonder om te bevraagteken en doen sonder om te dink. As toeskouer soek jy saam na 'n gemeenskap se dapperheid en die moed wat dit verg om dit buite die bekende te waag. Jy ontdek dat niemand net ryk of net arm is nie. Dit waaraan ons ryk en arm is, verskil net . . ."

Dramaturg en regisseur: Darryl Spijkers

Rolverdeling: Qawekhazi Samson as Molobasie, Doline Havinga as Hanli, Paul Strydom as Tomie, Josh Simone as Brumulda Brummel en Nina Stry­dom as Die Boekhouer.

  • Wegwêreld is onlangs as die algehele wenners van die Playhouse Dramafees aangewys en maak op 25 Augustus om 20:00 'n draai op die Baxter-teater se verhoog vir die Wes-Kaapse streekfees van ATKV-tienertoneel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM