Die tweede reisende klaskamer is verlede week by Alfons Primêr in die Paarl ontvang.
Die reisende klaskamer - die skool wat na jou toe kom - is twee mobiele rekenaar- en biblioteekklaskamers wat 'n besonderse impak op landelike gebiede in die Kaapse Wynland-distrik van die Wes-Kaap het.
Die inisiatief is deur Douglas Green Breweries (DGB) se liefdadigheidstrust van stapel gestuur.
Die eerste reisende klaskamer is in 2022 bekend gestel.
Die tweede hoogs gevorderde mobiele leerfasiliteit is deur die minister van landbou, John Steenhuisen, op 10 Februarie bekend gestel.
"Suid-Afrika het te kampe met drie baie groot uitdagings: werkloosheid, ongelykheid en armoede. Na my mening is opleiding die sleuteloplossing vir elkeen van hierdie spesifieke probleme.
"Om te verseker dat elke kind in Suid-Afrika, ongeag hul agtergrond, toegang het tot hoëkwaliteit-onderwys, is sekerlik een van die maklikste maniere om gelykheid in ons land te bewerkstellig.
"Die realiteit is egter dat die regering dit nie op sy eie kan doen nie. Beperkte hulpbronne beteken dat ons met die privaat sektor moet hande vat, met organisasies soos DGB en ander, ten einde hierdie groot behoeftes te kan takel.
"Sodoende kan ons verseker dat ons kinders kan leer en dat daar vir hulle geleenthede is om sukses te behaal en voort te gaan om die leiers van môre te word," het Steenhuisen gesê.

Elkeen van die mobiele klaskamers reis daagliks deur die wynland en besoek elk van die 19 skole in die program op 'n tweeweeklikse basis gedurende skoolure.
Die leerfasiliteite bestaan uit twee indrukwekkende 15m lange sleepwatrokke. Dit is ook ten volle toegerus met talle boeke asook 'n rekenaarsentrum wat daarop gemik is om die opvoedkundige gaping te oorbrug en meer as 5 000 laerskoolkinders en 153 onderwysers van 19 laerskole op te hef.
Meer as 80% van gr. 4-leerlinge by skole in hierdie omgewing sukkel met leesbegrip.
Hierdie realiteit belemmer akademiese sukses en die ontwikkeling van toekomstige potensiaal.
Die Reisende Klaskamer dien as 'n baken van hoop deur 'n vlammetjie van leergierigheid in elke kind aan te steek. Dit koester kinders se opvoedingservarings en bied uitdagings direk die hoof deur noodsaaklike opvoedingsbronne en holistiese ontwikkeling na die hart van gemeenskappe wat dit die nodigste het, te bring.
Die tweede reisende klaskamer is moontlik gemaak deur die DGB se liefdadigheidstrust, Giving Children A Chance-trust (Hutch). Dit word voorts ondersteun deur die donateurs Daimler Truck, Ardagh-glasverpakking en Rhenus-logistiek.
Kinderland Akademie, die geregistreerde gemeenskapsuitreik-aksie van die Kinderland-trust, sal die daaglikse aktiwiteite van die mobiele klaskamers bestuur.
Die toegewyde projekspan, onder leiding van dr. Thys Smith en Ilse Human, sien om na die logistiek, opvoedkundige oorsig, organisatoriese bestuur en administratiewe ondersteuning, en verseker die gladde funksionering en sukses van die projek.
Tim Hutchinson, uitvoerende voorsitter van DGB, doen 'n beroep op gemeenskappe en besighede om betrokke te raak.
"Ten einde die inisiatief om vroeë kinderontwikkeling in minderbevoorregte gemeenskappe te dupliseer en uit te brei, nooi ons graag donateurs om by ons aan te sluit en die weg tot 'n blinker toekoms te baan.
"Indien kinders na hoër onderwys kan vorder terwyl hulle die lesse wat hulle by ons fasiliteit geleer het, met hulle saamdra, sal ons almal as beter mense aan die anderkant uitkom."
DGB was nog altyd passievol oor positiewe verandering deur middel van inisiatiewe soos hierdie. Ree du Toit, produksiedirekteur van DGB, sê, hulle is toegewyd aan transformerende opvoeding deur noodsaaklike middele en kennis aan die jeug van die Kaapse Wynland te voorsien.
"Ons streef daarna om leerlinge te inspireer om die hindernisse van armoede en gebrek aan hulpmiddele te bowe te kom en om hulle te help om 'n nuwe storie vir hulself en hul gemeenskap te skryf."
Om deel te word van die reisende klaskamer, stuur 'n e-pos aan DGB by Charitable.Trust@dgb.co.za of skakel 021 864 5303 om met Ree du Toit te gesels.













