MySkool

Rugbyseisoen begin op hoë noot

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
xxxxxxxxxxxxx
xxxxxxxxxxxxx

Die begin van 'n skolerugbyseisoen gaan gewoonlik gepaard met verrassende oorwinnings. Saterdag was dit in besonder die Hoërskool Milnerton se o.19A-span wat met 'n yslike verrassing vorendag gekom het deur Rondebosch Boys' High te laat les opsê.Boonop het Milnerton se oorwinning van 34-33 gepaardgegaan met 'n massiewe ommeswaai driekwart deur die wedstryd.

Rondebosch het in 'n stadium 33-3 voorgeloop, maar toe stapel Milnerton in die laaste 20 minute 31 onbeantwoorde punte op om die oorgeruste tuisspan verslae huis toe te stuur.Rondebosch het in die doodsnikke nog 'n geleentheid gehad om die besoekers weer verby te steek, maar het die kans verspeel. In die Paarl het die Boishaaiers se eerste span wraak geneem vir verlede seisoen se nederlaag teen die Landbouskool Oakdale deur hierdie slag met 19-10 die knoop deur te hak.

Die Landbouskool Boland is katswink gehardloop deur Paarl Gimnasium wat vir die derde agtereenvolgende jaar aan die wenkant was - hierdie keer met 47-13.Ook SACS se eerste span het aangedui dat groot dinge hierdie seisoen van hom verwag kan word. Die Nuwelanders was met 24-22 bobaas teen Stellenberg - die eerste keer sedert 2015 dat SACS (welverdiend) met die tuisspan kon afreken. Brackenfell het in die hoofwedstryd van die Hoërskool Bellville se jaarlikse sportdag vergoed vir die Brakke se nederlaag verlede seisoen deur Bellville hierdie keer 25-17 te troef.

In Somerset-Wes het Parel Vallei eweneens die bordjies verhang deur D.F. Malan met 28-18 ore aan te sit.Ceres se HS Charlie Hofmeyr het teen HS Strand 'n duidelike boodskap uitgestuur dat hy nie sommer vanjaar vasgevat gaan word nie en was bobaas met 27-10.In die Boland het Worcester Gimnasium vier keer HS Swartland se doellyn oorgesteek, teenoor die Malmesbury-span se mindere twee drieë, maar Swartland het nogtans deurgeskraap met 'n oorwinning van 26-24.

Dit alles danksy die akkurate skopvoet van Carlo van der Merwe wat vir 16 punte gesorg het.Wynberg Boys' High het agterlangs te veel skietgoed gehad vir Durban­ville en onverwags maklik 36-19 gewen

Sarel Burger

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM