Daar gaan vanjaar altesaam 20 skole deel wees van die landbouskoleprogram by die Nampo Kaap-ekspo in Bredasdorp ná die sukses van verlede jaar se program.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het skole van die onderwysdistrikte Eden Sentraal-Karoo, Kaapse Wynland, Metropool, Weskus en Overberg uitgenooi na die program en gaan die vervoerkoste van 350 van hierdie leerlinge betaal om na die ekspo te gaan.
Verlede jaar was 200 leerlinge van ses skole betrokke by die program.
"Baie van die huidige generasie se ouers of familielede is op die een of ander manier by 'n boerdery of landbou-onderneming betrokke. Leerlinge oorweeg egter dikwels nie landbou as 'n beroep nie. Deur ons skoleprogram glo ons dat ons leerlinge se belangstelling in die landbousektor as 'n moontlike loopbaanopsie kan stimuleer," sê Alfreda Mars, koördineerder van die Nampo Kaap-skoleprogram.
Omnia se landbou-afdeling voorsien vanjaar elke leerling wat die skoleprogram bywoon van 'n Reel Gardening Box.
Die Nedbank Landbouskoleprogram word van Woensdag 13 tot Vrydag 15 September in die Wes-Kaapse Departement van Landbou-tent aangebied. Leerlinge kan hier meer leer oor vertikale boerderystelsels, groenteverbouing, genetiese uitnemendheid en teelbeplanning, die rol van die landboudepartement in volhoubare landbou en loopbaangeleenthede en studierigtings in die landbou.
Nedbank sal ook die leerlinge toerus met kennis oor finansiële beplanning en studielenings vir moontlike naskoolse studie.
Verder sluit die program ook 'n praktiese deel in waar leerlinge onder meer die Nooitgedacht- hidroponiese boerdery by Bredasdorppark, die graanproewe waar verskeie maatskappye die nuutste kultivars toets, bemesting en oesbeskerming, rasuitstallings in die Landbank Veetent, en die Wes-Kaapse departement van landbou se mobiele vleisverwerkingseenheid besoek.
Omnia se landbou-afdeling voorsien vanjaar elke leerling wat die skoleprogram bywoon van 'n Reel Gardening Box.
"Elke houer bevat saadbande van verskeie en noukeurig uitgekiesde variëteite wat (met instruksies) 'n gesin van vier vir 'n jaar kan voed. Leerlinge sal in staat wees om hul eie seisoenale groente met die Reel Gardening Box te produseer en eerstehandse ervaring op te doen om by te dra tot voedselsekerheid, hul gemeenskap en die krag van die landboubedryf," sê Mandla Mpofu, besturende direkteur van Omnia se landbouafdeling.
Landbou is ideaal geplaas om doelwitte soos ekonomiese groei en werkskepping in landelike gebiede te bereik, asook om voedselsekerheid te ondersteun.
— Neil Simons
Volgens Neil Simons, hoofonderwysspesialis van die WKOD, is die skoleprogram belangrik omdat dit die gr. 11-kurrikulum vir landboutegnologie, landboubestuur en landbouwetenskap op 'n praktiese wyse ondersteun.
"Leerlinge sal ook bewus gemaak word van die verskeidenheid studierigtings wat hulle kan volg om 'n loopbaan in landbou te volg."
"Landbou is ideaal geplaas om doelwitte soos ekonomiese groei en werkskepping in landelike gebiede te bereik, asook om voedselsekerheid te ondersteun. Om hierdie rede is dit belangrik om ons jong mense bloot te stel aan alle fasette van landbou deur sy totale waardeketting, insluitend nie-tradisionele elemente soos Vierde Industriële Revolusie-tegnologie en vooruitgang in boerderypraktyke. Vir hierdie doel wil ons leerlinge aanmoedig om die totale oppervlakte van Nampo Kaap te verken, met uitstallers te skakel en soveel vrae as moontlik te vra. Ons sien daarna uit om hulle by ons uitstalling in die BKB-saal te ontvang en vir hulle studie- en beroepsgeleenthede te wys," sê Dirk Troskie, direkteur van besigheidsbeplanning en strategie van die Wes-Kaapse landboudepartement.
- Kaartjies vir Nampo Kaap (13 tot 15 September) is aanlyn by www.ticketpros.co.za beskikbaar en kos R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Dit is gratis vir voorskoolse kinders. Kaartjies is ook by die hekke beskikbaar.



















