MySkool

Só leer ons ook respek vir ‘die ander’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
moedertaal
moedertaal

Suid-Afrika se ryk erfenis van verskillende kulture en tale maak dit voorwaar 'n interessante land. Die feit dat die meeste mense minstens twee tale vlot kan praat, is 'n voorreg. Die kans is ook goed dat jy hier en daar woorde van 'n derde (of selfs vierde) taal aangeleer het as kind, na gelang van jou streek en jou skoolmaats.

Dit beteken Suid-Afrikaners is in 'n baie goeie posisie om begrip te hê vir kulture wat anders as hul eie is.

Hoewel ons blootgestel word aan al hierdie tale, beteken dit nie noodwendig daar word onderrig in al hierdie tale gebied nie. Vir baie leerlinge is dit 'n struikelblok tot doeltreffende leer omdat die uitdaging nou groter is as net die leerplan of kursus.

Internasionale Moedertaaldag word elke jaar op 21 Februarie gevier, en vanjaar val die kollig op die belang van moedertaalonderrig en die volhoubaarheid daarvan.

Volgens die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie, Unesco, het 40% van die wêreld se bevolking nie toegang tot onderrig in hul moedertaal of in 'n taal wat hulle verstaan nie. In sekere lande is dié syfer so hoog as 90%.

Daarom vier Unesco dié dag vanjaar met die fokus op die belang van veeltaligheid in onderrig as die rugsteun van volhoubare ontwikkeling. Só sal diversiteit, inklusiwiteit, gehalteonderrig en lewenslange leer dan bevorder word.

Prof. Michael le Cordeur, visedekaan van leer en onderrig aan die Universiteit Stellenbosch, sê hoe meer jou moedertaal gepraat, gelees en gebruik word, hoe groter is die kans dat die taal sal oorleef.

"Dit is oor en oor bewys dat moedertaalonderrig die beste onderrig is en dit gee aan leerlinge die beste kans om die werk te bemeester," sê prof. Le Cordeur.

"Leerlinge leer praat, lees en skryf in die taal wat hul ouers en voorouers gebruik het. Dit bring mee dat die taal op 'n volgehoue wyse binne die gemeenskap gebruik word en dat die leerlinge dit in ander areas buite die klaskamer, soos op die sportveld en tydens sosiale interaksie, gebruik," sê Nadine Fouché-Karsten, VivA se onderwystaalkundige.

Waarom is dit belangrik om Moedertaaldag te vier?

Prof. Le Cordeur sê eintlik vier jy die taal elke keer as jy dit sinvol gebruik.

Volgens Fouché-Karsten sê die Grondwet eksplisiet dat al die tale wat binne Suid-Afrikaanse gemeenskappe gebruik word, gerespekteer moet word, en dit is juis wat 'n mens op 'n dag soos Moedertaaldag doen. "Jy gee erkenning en toon respek vir die linguistiese verskeidenheid waardeur die Suid-Afrikaanse landskap gekenmerk word, terwyl jy ook erkenning gee aan die kulturele en tradisionele erfenis wat elke taal vorm."

Sy sê wanneer die moedertaal van leerlinge as die taal van onderrig en leer gebruik word, word die status en die belangrikheid van daardie taal in die gemeenskap versterk.

"Dit lei weer tot 'n mate van trots aan die kant van die leerling wat waarde aan hierdie moedertaal heg en besef dat dit iets is om te bewaar."

Die sprekers van hierdie moedertaal sal gevolglik op die erkenning en ondersteuning van hul taal aandring en saamwerk om hul linguistiese erfenis te bewaar vir gebruik binne die onderwyskonteks en die openbare lewe. Dit versterk die taal se posisie wanneer daar eksterne druk ter sprake is, sê sy.

Moedertaalonderrig vergemaklik die aanleer van nuwe werk.
Moedertaalonderrig vergemaklik die aanleer van nuwe werk.

Voordele van Moedertaalonderrig

  • Wanneer 'n moedertaal as 'n taal van onderrig en leer gebruik word, bring dit mee dat opvoedkundige materiaal in daardie taal ontwikkel word.
  • Dit lê 'n sterk fondasie vir leerlinge se vermoë om te leer.
  • Kritiese denkvaardighede word gekweek.
  • Dit maak die deur oop vir intergenerasie geleerdheid en blaas nuwe lewe in 'n taal.
  • Dit dra by tot die bewaring van kultuur en herkoms. Taal weerspieël die tradisies, waardes, gebruike en geskiedenis van 'n bepaalde gemeenskap. Wanneer die voertaal die moedertaal is, word leerlinge dus gelei tot insigte oor hul kulturele agtergrond. Aan die ander kant lei die gebruik van 'n vreemde taal as die voertaal tot 'n gevoel van vervreemding van jou eie kultuur en erfenis.
  • Dit vorm die kognitiewe en linguistiese basis vir die aanleer van addisionele tale.
  • Leerlinge se familieverhoudings word positief beïnvloed omdat die ouer in staat is om die kind by te staan in 'n taal wat hulle verstaan wanneer daar byvoorbeeld huiswerk gedoen word. Só word die ontstaan van 'n linguistiese gaping verhoed wat emosionele bande tussen familielede sou kon leed aandoen.
  • Indien studente (en uiteraard ook leerlinge op skoolvlak) in hul moedertaal binne opvoedkundige ruimtes kan kommunikeer, skep dit 'n gevoel van "behoort", van deel wees, met die gevolg dat hulle meer geneë is om aan die verskeie aspekte van universiteits- en skoollewe deel te neem, soos sosiale interaksies en kulturele geleenthede. Linguistiese inklusiwiteit dra daarom by tot die skep van 'n ondersteunende en deelnemende omgewing.
  • Omdat die taal wat in opvoedkundige materiaal gebruik word aan bepaalde taalnorme onderhewig is, lei die gebruik daarvan tot die standaardisering en die ontwikkeling van die taal as 'n hoëfunksietaal. Hierdie proses van standaardisering verhoog die prestige van die taal en lei tot die gebruik daarvan in formele kontekste. Op hierdie wyse word die posisie van die taal dan binne die breër taallandskap versterk.
  • Dink net hoe senuweeagtig 'n mens word wanneer jy in 'n ander taal met mense moet praat. Kommunikasie in jou moedertaal bevredig die mens se behoefte aan 'n positiewe selfbeeld.
  • Dit bied 'n skakel tussen leesvaardighede en die leesproses.
  • Die kind se moedertaal vorm 'n geïntegreerde deel van hul persoonlikheid, en juis om hierdie rede hou moedertaalonderrig die voordeel in dat dit bydra tot die ontwikkeling van die leerling se persoonlike identiteit.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM