'n Toneelstuk van die Hoërskool Strand is besig om groot opslae te maak en ryg terselfdertyd die pryse in.
Daarby is daar sterk sprake dat die stuk binnekort op toer geneem gaan word.
Die toneelstuk Skebenga (wat "bendelid" beteken) handel oor die lewe van jongmense in bendegeteisterde gebiede en hoe jongelinge by die aktiwiteite ingetrek word. En terselfdertyd wys die gebeure op die menslikheid en natuurlikheid van die bendelede.
In die Playhouse-teater tydens die onlangse Parel Vallei-toneelfees is die Skebenga-groep staande toegejuig oor hul indrukwekkende spel - waarmee hulle ook die Beoordelaarstrofee verower het.
Die stuk het 'n dubbelgoud-prys ontvang, terwyl Darren Johannes as die beste akteur benoem is.
Op die Klein Libertastoneelfees verlede maand in Stellenbosch is al die akteurs in Skebenga vir 'n goue prys benoem. Johannes is as die beste akteur aangewys en Kayden Links en Michael Ruzvidzo is benoem vir hul ondersteunende spel.
Op die onlangse ATKV-fees in Kaapstad is al drie die hoofkarakters met 'n goue eerbewys bekroon.
Skebenga se regisseur is Willene Theart, 'n personeellid van die Hoërskool Strand, terwyl Meagan Beukes die vehoogbestuurder is en sy word bygestaan deur Mary van Wyk.

















