Vir Zaun Marthinus, 'n gr. 9- leerling aan die Hoërskool Stellenbosch, was die onlangse ASA Junior Atletiekbyeenkoms beslis een vir die boeke nadat hy goud in sowel die seuns o. 16-diskusgooi as -spiesgooi losgeslaan het.
Hy het boonop die Suid-Afrikaanse rekord in die spiesgooi verbeter.
Hy neem ook mededingend aan gewigstoot deel, maar kon slegs aan twee nommers by die kampioenskap deelneem.
Zaun is oorspronklik van Montagu, en het in 2023 as deel van die Endurocad- en ACE Trust-program by die Hoërskool Stellenbosch aangesluit.
Volgens Zaun het hy nie gedink dit sou moontlik wees om die spiesgooi-rekord te verbeter nie.
"Ek het gevoel dis heeltemal buite my bereik. Verlede jaar het ek maar nog 55 m gegooi. Met harde werk en deursettingsvermoë het my wildste drome waar geword en ek het dit gedoen. Ek het die SA rekord verpletter en 'n rekordafstand van 69.91 m gegooi. Ek is ongelooflik dankbaar en ek voel ook so trots op myself," sê Zaun.
Hy het op negejarige ouderdom in atletiek begin uitblink, en sedertdien hard gewerk om met sy talente te woeker.
"Die oomblik toe ek spiesgooi en diskus vir die eerste keer probeer, het ek geweet ek gaan lief raak daarvoor. Ek geniet dit regtig baie.
"Ek is seker daar is baie gooiers daar buite wat met my sal saamstem oor die gevoel wat mens kry as die implement uit jou hande gaan en jy kan voel dit gaan 'n lekker, suksesvolle gooi wees!"
Zaun wil ook graag eendag aan die Olimpiese Spele deelneem.
"My grootste droom is om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in diskus en spiesgooi te verteenwoordig. Ek wil ook baie graag goud wen in albei items."
Om te verseker dat hy sy beste in elk van die veldnommers gee, volg hy 'n baie strawwe oefenprogram.
"Maandae en Woensdae oefen ek gewigstoot vir 'n uur lank en daarna oefen ek nog 'n uur diskus. Dinsdae en Donderdae oefen ek spiesgooi vir 'n uur en 'n half. Tussendeur het 'n ook gimnasiumsessies wat ek bywoon.
"In die tye wat ek nie deelneem nie, probeer ek rus. Ek hou daarvan om saam met my vriende te kuier. Daar is egter nie baie tyd vir rus nie. So, dis oefen en nogmaals oefen," voeg hy by.
Zaun sê sy plan is om 'n professionele atleet te word, maar hy sal ook wil gaan studeer.
"Ek sal graag 'n graad in sportwetenskap wil verwerf sodat ek iets het om op terug te val wanneer ek ouer is en uit sport wil tree."
Volgens sy ouers, Monique en Jeanne, wil Zaun ook met sy atletiek in die toekoms in die gemeenskap terugploeg. "Ons is dankbaar vir die ondersteunende omgewing wat Endurocad, die ACE Trust en die Hoërskool Stellenbosch vir hom bied, en is trots op sy werksetiek en deursettingsvermoë."





















