In 'n veranderende wêreld met kunsmatige intelligensie wat al hoe meer toeneem, is dit belangriker as ooit om kinders met die nodige vaardighede toe te rus.
Deesdae word baie roetinetake deur kunsmatige intelligensie oorgeneem en dit is dus belangrik dat jongmense die nodige vaardighede aanleer om waardevol te wees in die werksplek.
Maatskappye soek nie meer noodwendig mense wat gewone vaardighede, ook bekend as harde vaardighede, het nie, maar eerder die menslike vaardighede, oftewel sagte vaardighede.
Mark Anderson, hoof van Koa Academy, sê deel die probleem is dat skole steeds gedomineer word deur die leer en onderrig van die sogenaamde harde vaardighede.
Hoe verskil harde en sagte vaardighede van mekaar?
"Harde vaardighede word aangeleer deur 'n reeks van prosedures, werking en stappe, sowel as reëls en inligting wat jou toelaat om 'n spesifieke probleem op te los.
" 'n Voorbeeld sal wees om te leer om langdeling te doen en dan kan jy syfers verdeel.
"Die probleem met harde vaardighede is dat dit nie oorgedra kan word van een probleem na die volgende nie. Harde vaardighede kan slegs die probleem waarvoor die vaardigheid ontwerp is, oplos. Jy kan byvoorbeeld die reeks van aksies en die gereedskap leer om 'n wiel om te ruil, en dit sal jou help as jy 'n pap wiel het. Jy kan dit egter nie elders gebruik nie," deel Anderson.
Sagte vaardighede, ook bekend as sleutel- en menslike vaardighede, is vermoë wat ontwikkel word deur oorweging en terugvoer, ervaring en oefening. Dit sluit in kommunikasie, leierskapvaardighede, samewerking en spanwerk, kreatiewe en kritiese denke, empatie en kulturele bevoegdheid. Iets wat meer kompleks is om te ontwikkel.
"Hierdie is kragtige en dinamiese vaardighede, en die beste deel van hulle is dat dit, anders as harde vaardighede, oorgedra kan word en aangewend kan word om 'n wye verskeidenheid van probleme suksesvol op te los," sê Anderson.
Hoe kan hierdie vaardighede jou kind help?
Navorsing van die Harvard-Universiteit, die Carnegie Foundation en Stanford Research wys dat sagte vaardighede bydra tot 85% van loopbaansukses, aldus die VSA se National Soft Skills Association.
Hierdie vaardighede is dus nie net goed om te hê nie, dit is belangrik vir jou kind se sukses in die lewe. In 2019 se LinkedIn Talent Trends-opname het 91% van werkgewers sagte vaardighede gelys as hul topvereiste wanneer hulle nuwe werknemers soek.
Volgens Anderson is die uitdaging vir skole dat hierdie sagte vaardighede nie 'n vereiste vir die kurrikulum is nie en dat dit nie noodwendig in 'n tradisionele klasomgewing geleer kan word óf deur toetse geassesseer word nie.
"Skole het nuwe maniere nodig om geleenthede te bou vir kinders om hierdie sleutelvaardighede aan te leer - dit kom deur vorming, oefening, terugvoer en refleksie."
Kinders kry ervaring deur saam te werk in spanne en deur innoverende projekte te ontwikkel vir die jaarlikse wetenskap-, besigheid- en kreatiewe ekspo's.
By Koa is hierdie 'n prioriteit in hul aanlyn onderrigervaring. Met net agt leerlinge in 'n pod met een onderwyser, word kritiese denke en refleksie aangespoor.
"Kommunikasievaardighede word ontwikkel deur uitstallings en voorleggings, sowel as gesprekke tussen portuur, onderwysers en kenners wat ons inbring om met die leerlinge te werk.
"Kinders kry ervaring deur saam te werk in spanne en deur innoverende projekte te ontwikkel vir die jaarlikse wetenskap-, besigheid- en kreatiewe ekspo's. Self-bemeestering en tydbestuur word ontwikkel deur aanspreeklik gehou te word vir leerteikens en deel te neem aan weeklikse geskeduleerde geleenthede soos meesterklasse en konneksies," verduidelik Anderson.
Hierdie is goed wat kinders kan aanleer deur deel te neem aan verskillende aktiwiteite en vir hulself doelwitte en skedules te maak vir projekte en skoolwerk.
Sleutelvaardighede kan deel vorm van die kurrikulum, en aktiwiteite en take kan ontwerp word sodat leerlinge vaardighede soos leierskap, spanwerk en kommunikasie aanleer. Sodoende kan leerlinge die nodige sagte vaardighede aanleer om hulle op die pad van sukses te plaas.




















