Die sagtewarereus Microsoft het R1,3 miljard aan Suid-Afrika beloof om die digitale ekonomie te help bou, werk te skep en die land vir die transformasie van kunsmatige intelligensie (KI) voor te berei.
Die geld word in 'n fonds geplaas waaruit die departement van handel, nywerheid en mededinging swart kleinsakeondernemings in nietegniese sektore sal steun om tegnologie te gebruik en hul mededinging te verbeter.
"Dit sal dien as 'n brug om jong mense in staat te stel om opleiding, sertifisering en werk te kry," sê Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, in 'n verklaring.
Die digitale revolusie het mense nodig wat vaardig is in wolkdienste, kuberveiligheid, data-ontleding, KI en masjienleer, volgens Microsoft. Die belegging sal huidige en toekomstige werkers met dié gevorderde vaardighede toerus.
Die opleidingsprogramme wat uit die fonds gefinansier sal word, sal ontwerp word om die inligtingstegnologievermoëns van kleinsakeondernemings en jeugdiges te verbeter.
Lillian Barnard, president van Microsoft Africa, het op die bekendstelling van die belegging gesê hul missie is "om elke mens en organisasie op die planeet te bemagtig om meer te bereik".
Die ontwikkelingsprogram vir kleinsakeondernemings sal luidens die verklaring nie net op tegniese vaardighede fokus nie, maar ook entrepreneuriese vaardighede om volhoubare ondernemings in die land te skep.
"Transformerende tegnologie soos wolkdienste en KI het die potensiaal om van Suid-Afrika se dwingendste uitdagings op te los," sê Barnard.
Kalane Rampai, besturende direkteur van Microsoft Suid-Afrika, het bygevoeg dat die helfte van die wêreld se jeug teen 2040 in Afrika sal woon. "Die wêreld verander vinnig, en die era van KI lui 'n toekoms vol innovasie in. Die geleentheid daarvoor in Afrika is omvangryk. Deur dié program wil ons aan die vraag na digitale vaardighede voldoen, terwyl ons ook geleenthede vir kleinsake skep om te groei en te floreer."
Van die geld sal ook aangewend word in 'n sogenaamde openbaresektor-werkplasingsprogram. Microsoft sal daardeur mense wat vir poste in die staatsdiens aanvaar is, toerus met basiese programmeringsvaardighede om van dié vaardighede in belangrike staatsdepartemente ontplooi te kry.
Teikens van die Microsoft-belegging van R1,3 miljard:
• Versnel die vermoëns van klein en middelslagondernemings en die jeug;
• Digitale transformasie by tot 42 kleinsake- en beginnerondernemings;
• Help 18 tegniese en beroepsgerigte opleidingskolleges (TVET) om tegnologie te gebruik om die leerervaring te verbeter;
• Rus 200 klein en middelslagondernemings en meer as 2 000 individue toe met gevorderde KI- en ander vaardighede;
• Steun tot 20 gevorderde navorsings- en ontwikkelingsprojekte wat betref beleidsbehoeftes rakende kuberveiligheid en KI.



















