Vier dapper swemmers van die Hugenote Hoërskool op Wellington oefen tans hard sodat hulle met sukses van Robbeneiland na Bloubergstrand kan swem.
Shani Olivier, Neil-Willem Büchner, Paul Conradie en Mischa Grobler se 7,5 km-aflos word vir Sondag 28 April beplan.
Die vier talentvolle leerders is almal deel van Hugenote se swemspan.
Hulle al vier sien baie daarna uit om die uitdaging saam met hul skoolvriende aan te durf, en om hul grense terselfdertyd te toets.
Shani het in Maart deelgeneem aan die SA Vlak 3-kampioenskap in Oos-Londen, en het onder meer drie eerste plekke behaal.
Op haar beurt het Mischa vanjaar 'n silwermedalje by die Boland-tweekampbyeenkoms verwerf.
Die span is egter nie net talentvolle swemmers nie.
Sowel Neil-Willem as Paul speel vir die skool se o. 18A-hokkiespan, en albei is te sien in die jaarlikse musiekblyspele wat Hugenote aanbied.
Volgens die organiseerder Michael Grobler is die swemmers se durf en daad 'n gepaste manier om die feesvieringe rondom die skool se 150ste gedenkjaar in te lui, en ook om geld in te samel.
Die swemmers kan teen R20 'n meter geborg word. Die geldinsamelingspoging word ondersteun deur die Hugenote Ondersteunersbond.
¦ Vir meer inligting kontak Michael Grobler by 082 475 4246.

















