MySkool

Voornemende studente gewaarsku

Tydsdruk ná matriek kan tot verkeerde studiekeuses lei.
Tydsdruk ná matriek kan tot verkeerde studiekeuses lei. (Illustrasie: TOQAN KI)

’n Gewag op antwoorde, aansoeke wat nie uitwerk nie en die druk om vinnig ’n plan te maak – dit is die werklikheid waarmee baie matrikulante ná matriek sit. Dr. Linda Meyer, besturende direkteur van IIE Rosebank College en Waterfall School of Business, sê dit is juis in hierdie onseker oorgangstyd dat jongmense maklik verkeerde besluite oor hul studie kan neem.

Dr. Linda Meyer waarsku dat tydsdruk en beperkte universiteitsplekke sommige studente in die arms van onbetroubare kolleges kan dryf.

Die druk het toegeneem nadat Suid-Afrika se klas van 2025 ’n Nasionale Senior Sertifikaat-slaagsyfer van 88% behaal het, die hoogste nóg.

Meer matrikulante as ooit tevore het ’n Baccalaureus-slaag behaal en kwalifiseer nou vir universiteitsgraadstudie. Tog beteken beperkte plek by openbare universiteite dat baie leerlinge, ondanks goeie uitslae, steeds sonder ’n bevestigde studieplek sit.

Volgens Meyer is dit dikwels hier waar dinge skeefloop. Wanneer leerlinge en hul families bang is om ’n jaar te “verloor”, word enige beskikbare opsie soms oorweeg. “Besluite word dan geneem sonder dat instellings of kwalifikasies behoorlik nagegaan word,” sê sy. “Dit stel studente bloot aan ernstige akademiese en finansiële risiko’s.”

Meyer sê ’n algemene strik waarin voornemende studente trap, is om by ’n privaat instelling in te skryf met die idee dat dit net ’n tydelike oplossing is. Hulle neem aan dat hulle later maklik na ’n universiteit kan oorskuif. “Hierdie aanname is gevaarlik. As ’n instelling of kwalifikasie nie wettig en geakkrediteer is nie, kan die tyd en geld wat daaraan bestee word, eenvoudig verlore gaan,” verduidelik sy.

Sy beklemtoon dat sekere kontroles nooit oorgeslaan moet word nie. Die eerste stap is om te bevestig dat ’n instelling op die departement van hoër onderwys en opleiding (DHOO) se amptelike lys van geregistreerde private hoëronderwysverskaffers verskyn.

Daarna moet voornemende studente seker maak dat hul gekose kwalifikasie by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk geregistreer is en deur die Raad op Hoër Onderwys geakkrediteer word.

Sy sê daar is duidelike rooi vlae waarop leerlinge en ouers bedag moet wees. “Instellings wat nie op die DHOO se geregistreerde lys verskyn nie, of wat nie ’n oorspronklike registrasiesertifikaat by hul perseel vertoon nie, behoort dadelik bevraagteken te word. Kopieë alleen is nie voldoende nie,” beklemtoon sy.

Meyer raai leerlinge en ouers aan om die DHOO direk te kontak as hulle onseker is. “Moenie net op advertensies of mooi beloftes staatmaak nie,” sê sy.

Verder waarsku sy teen onbetroubare kolleges. Swak infrastruktuur, ongekwalifiseerde akademiese personeel en vorige berigte van diskreditering is verdere tekens dat iets nie reg is nie. “Die akkreditasieproses neem gewoonlik twee tot drie jaar. ’n Instelling wat net een of twee jaar bestaan, kan eenvoudig nog nie behoorlik geëvalueer gewees het nie,” sê sy.

Benewens amptelike verifikasie beveel Meyer aan dat voornemende studente ook hul eie ondersoek doen. “Gaan lees aanlyn resensies en kyk op platforms soos Hello Peter,” sê sy. “Wanneer dieselfde probleme oor en oor voorkom, is dit gewoonlik ’n waarskuwings­teken.

“Hierdie instansies word selde oornag ontmasker, rooi vlae bou oor ’n tyd op deur herhaalde klagtes, mediaberigte en departementele waarskuwings,” verduidelik sy verder.

Meyer sê die finansiële risiko’s is groot. “Waar leerlinge by ongeregistreerde of bedrieglike kolleges inskryf, kan die geld verlore gaan, en die kanse om die geld terug te kry is skaars,” sê sy. “Dis ’n verlies wat min Suid-Afrikaanse families kan bekostig,” beklemtoon sy.

Meyer het voornemende studente aanbeveel om nie toe te laat dat tydsdruk hul besluite bepaal nie. “ ’n Paar uur se deeglike navorsing kan ’n leeftyd se spyt voorkom,” sê sy. “Neem die tyd om instellings en kwalifikasies deur amptelike kanale te verifieer en beskerm jou toekoms.”