MySkool

WP bly steeds bobaas in skolerugby

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

Die Westelike Provinsie is op skolerugbyvlak steeds die top-unie in die land - soos dit duidelik blyk uit die uitslae van die sewe interprovinsiale toernooie gedurende die afgelope skoolvakansie.

In drie van die toernooie is die Kapenaars as die kampioen gekroon. En in die ander vier saamtrekke was hulle óf die naaswenner óf onder die voorbokke.

Met die Streeptruie se oorwinning van 27-21 oor Suidwestelike Distrikte in die hoofwedstryd van die o. 18-Cravenweek in Middelburg (Gauteng) is dit duidelik uitgespel dat die krag van SA skolerugby hier in die suide van die land gevestig is. Met seges ook oor KwaZulu-Natal (45-13) en Boland (80-18) was die WP nie net die enigste onoorwonne span nie, maar was hy terselfdertyd nege keer in die afgelope 14 jaar se saamtrekke die topspan.

Die Suidwestelike Distrikte (SWD) verdien ook lof nadat hy met oorwinnings oor Vrystaat (35-34) en Gauteng Leeus (54-22) ook die "eindstryd" kon haal. Die Boland het ná sy pak slae op dag een ook met 19-35 teen Oos-Gauteng se Valke vasgeval, maar het daarna darem wel 38-36 met Noord-Vrystaat se Griffons afgereken. WP se B-span het die einste Griffons 52-6 gelooi en Mpumalanga 45-14 kortgevat, maar moes op die laaste dag naelskraap 26-27 die knie buig voor Gauteng se Leeus.

By die Akademieweek (vir die bonde se naasbeste o. 18-spanne) was die WP (se C-span) ook 'n treffer toe hy eers in die "eindstryd" met 31-20 deur Gauteng gestuit is. Vroeër het die Streeptruie 33-20 teen Vrystaat gewen en 25-21 met Gauteng se C-span klaargespeel. Die SWD het 'n wegholsege oor die Griffons behaal en Vrystaat 25-7 geklop, maar het 'n groot pak slae teen die Leeus XV-tal op die lyf geloop. Die Boland het weggespring met 'n sege van 36-26 oor Grens, maar is daarna ore aangesit deur KwaZulu-Natal (5-32) en Oostelike Provinsie (24-45).

By die Grant Khomo-week vir o. 16-spanne is die WP ook eers in die "eindstryd" 51-28 deur KwaZulu-Natal getroef - nadat die Streeptruie vroeër Vrystaat (55-22) en SWD (29-21) geklop het. Die einste SWD was nietemin ook kookwater met oorwinnings oor OP (27-10) en Gauteng (15-5). Die Boland het Grens 36-12 geklop nadat hy vroeër streepsuiker gekry het van die Bulle en die Leeus.

Die WP se o. 13-kannetjies het andermaal getoon dat weinig by hulle kan kers vashou op laerskoolvlak. As die enigste onoorwonne span van die 16 deelnemende spanne het die Kapenaars vir die 13de keer in die afgelope 14 jaar die "eindstryd" gehaal - en nege keer die louere weggedra. Die jong Streeptruie het klaargespeel met OP (31-7), Vrystaat (27-12), Mpumalanga (31-12) en Boland (21-7). Die Boland het ewe skitterend gevaar en Grens 27-5 in die stof laat byt, en so ook die Griffons (17-15) en KwaZulu-Natal (20-5) laat les opsê. SWD was twee keer aan die wenkant en het klaargespeel met die Valke (59-12) en Griffons (31-5).

Die WP se o. 18-LSOB-span is by die saamtrek vir leerlinge met spesiale onderwysbeboeftes eers in die "eindstryd" gestuit. Ná oorwinnings oor die Leeus (55-10) en SWD (35-12) is die Kapenaars naelskraap in die hoofwedstryd 11-10 deur die OP geklop.

In Johannesburg het die WP se o. 18-meisiespan hul manlike eweknieë nagedoen en het as die topspan uit die stryd getree - met oorwinnings oor Oos-Gauteng se Valke (79-7), Zimbabwe (36-5) en die Leeus (31-5). Die Boland was aan die wenkant teen Limpopo (24-12) en Mpumalanga (20-5), maar het 12-19 teen die Bulle verloor. Die SWD het wankelrig begin met nederlae teen Mpumalanga en die Bulle, maar het op die laaste dag die Wes-Gautengse Luiperds 22-12 getroef.

Die Streeptruie se o. 16-meisiespan het ewe blink vertoon en is eers in die "eindstryd" 17-7 deur die Leeus koudgesit ná hul vroeëre seges oor die Luiperds (88-0) en OP (14-7). Die Boland het weggespring met 'n 29-5-afrekening van die Griekwas, maar het daarna verloor teen Grens (5-22) en OP (7-13). Die SWD was ook net een keer aan die wenkant - met 41-5 teen die Griffons. Hulle moes toe egter besgee teen die Leeus en Limpopo.

Sarel Burger

CTA